Twee maande lank het sy haar dogtertjie elke dag in haar arms geneem en vir haar woordprentjies van ’n sonskynland geskep – ’n land waar daar warm storte is en matrasse waarop klein dogtertjies kan slaap.

Maar snags, wanneer die tronkdeure agter Vanessa Goosen (37) toegeklap het, kon haar eie woorde

haar nie troos nie en het sy die donker ure op ’n koue sementvloer omgehuil oor die kind wat sy binnekort sou moes wegstuur.

“In my kop het sy nooit alleen by die tronk uitgestap nie. Ek het nooit gedink hulle sou haar by my wegvat nie. Ek het geglo ons sou saam daar uitstap,” vertel die voormalige Mej. Suid-Afrikafinalis wat 16 jaar in ’n tronk in Thailand was nadat sy met dwelms betrap is. Sy hou steeds vol sy was onskuldig, die niksvermoedende slagoffer van haar vriend van destyds wat die dwelms in haar bagasie weggesteek het.

Haar oë skiet vol trane en haar stem word ’n dowwe fluistering toe sy daardie dag van afskeid 13 jaar gelede in die tronk weer soos gister onthou.

Twee maande voor Felicia drie geword het, het Thailand se tronkbeleid verander. Gevangenes se kinders kon voortaan net tot op eenjarige ouderdom by hulle bly. Vanessa het ’n keuse gehad. Sy kon die dogtertjie wat in die tronk gebore is na familie in Suid-Afrika stuur, of andersins sou haar dogter se nuwe huis ’n weeshuis in Bangkok wees.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 18 November 2010.