So twee jaar gelede het Stefan Ludik, oftewel die hoofsanger van Elvis Se Seun, die liedjie Hou Vas, Anna geskryf.

Lank het hy gedink die volmaakte tema vir dié liedjie se musiekvideo moet wees van hom wat by ’n vertoning optree en ’n aanhanger se kêrel wat jaloers raak . . .

“Ek het nooit gedink dit gaan regtig met my gebeur nie,” skerts Stefan.

Op Vrydag 25 November, die naweek voor Elvis Se Seun hul jongste musiekvideo geskiet het, het ’n aanhanger se verloofde Stefan by ’n vertoning op Sasolburg op die oog gemoker (Gepot, want ek’s ’n Gawie, 15 Desember 2016). Hoewel die swelling om die sanger se oog gesak het teen die tyd dat hy die volgende week die video moes skiet, was dit steeds duidelik hy het deurgeloop.

Vandag wys Huisgenoot Elvis Se Seun se nuwe musiekvideo eksklusief vir die eerste keer.

“Dit is heel snaaks hoe goed die video by die liedjie pas, te midde van die hele vuishou-storie,” sê Stefan.

“Nou kan ons aanhangers sien ons neem onsself nooit ernstig op nie en sal ’n video vir hulle klaarmaak -met ’n blou oog en al.”

Kyk die video hier:

Elvis Se Seun toer tans in die Kaap en is op Dinsdagaand 20 Desember te sien by Die Boer-restaurant-en-teater in Durbanville. Hulle sluit die jaar op Oujaarsdag in Gauteng af: Die middag is hulle by East Rand Traders Square in Boksburg en die aand by Barristers in Montana, Pretoria.

Elvis Se Seun se Kersboodskap aan sy aanhangers:

Ons wens almal ’n gesëende Kersfees vol vreugde toe! Ons is so dankbaar vir almal wat ons ondersteun. Vreeslik dankie vir die ongelooflike jaar saam met julle. :)

Liefde en mooi wense,

Elvis Se Seun