Die Afrikaanse rapper Snotkop het geen bekendstelling nodig nie. Hy is alombekend vir sy energiebelaaide ritmes en skerpsinnige lirieke en nou is hy terug met ’n splinternuwe musiekvideo vir sy nuwe treffer, Cool Soos Koos Kombuis.

Dié video speel basies soos ’n visuele kortverhaal voor jou af en vertel die storie van ’n Jan Alleman wat wens hy was cooler. Hy droom daarvan om vir Koos Kombuis te ontmoet, want hy glo vas dié bekende liedjieboer sal hom help om sy cool-faktor te vind.

Die musiekvideo is deels in Kaapstad en Johannesburg verfilm. Groot was die vervaardigers se blydskap toe die legendariese Koos Kombuis ingestem het om ’n verskyning in die video te maak.

[caption id="attachment_131086" align="alignnone" width="600"]Snotkop kan nie uitgepraat raak oor hoe lekker dit was om Koos Kombuis in lewende lywe te ontmoet nie. Foto: Verskaf Snotkop kan nie uitgepraat raak oor hoe lekker dit was om Koos Kombuis in lewende lywe te ontmoet nie. Foto: Verskaf[/caption]

Snotkop (Francois Henning), ’n groot Koos Kombuis-aanhanger, kan nie uitgepraat raak oor hoe lekker dit was om sy kinderheld in lewende lywe te ontmoet nie.

“Koos is een van die vriendelikste en coolste ouens wat ek al ooit ontmoet het," sê Snotkop. "Ek was baie starstruck toe ek hom die eerste keer sien, maar na ons begin skiet het, het ons lekker begin gesels."

[caption id="attachment_131088" align="alignnone" width="600"]Die melkskommel-tonele was glo uiters morsig te skiet. Foto: YouTube Die melkskommel-tonele was glo uiters morsig te skiet. Foto: YouTube[/caption]

Die tonele in die restaurant was glo ’n groot gemors om te verfilm. Die melkskommels en hamburgers met sous wat in die toneel gebruik is, moes oor en oor op die modelle gemors word om die regte effek te kon kry. Gelukkig het die modelle nie omgegee nie!

Die indrukwekkende Mustang-tonele is op die stand by Muizenberg en op ’n nabygeleë krans verfilm. Snotkop vertel dié vintage motor het op ’n kol amper in die see ingerol ná hy hom geparkeer het. "Die kar het net eweskielik begin vorentoe rol toe ek uitklim," vertel hy.

[caption id="attachment_131087" align="alignnone" width="600"]Dié vintage Mustang het glo amper by 'n berg afgerol tydens die skiet van die musiekvideo. Foto: Verskaf Dié vintage Mustang het glo amper by 'n berg afgerol tydens die skiet van die musiekvideo. Foto: Verskaf[/caption]

Gelukkig was daar vier "sterk mans" op stel wat die Mustang enkele sentimeters van ’n afgrond af kon red.

"’n Klein tegniese komplikasie..." is al wat Snotkop daaroor wil sê!