Die staat en die verdediging het Dinsdag ooreengekom om die Anika Smit-saak tot 31 Januarie uit te stel vir 'n formele borgaansoek, berig die SAUK.

Die hof sou Dinsdag gehoor het wat die uitslag van DNS-toetse van die man was wat homself verlede jaar in verband met die tiener Anika Smit se moord oorgegee het, en of dit verbind kan word met die DNS-materiaal wat op die toneel gevind is.

Adv. Corrie Nieuwenhuys en mnr. Latham Dixon, Smiley se regsverteenwoordigers, het bevestig dat hulle die uitslae van die DNS-toetse ontvang het, maar wou nie sê wat die uitslae was nie.

Volgens Smiley se regspan het die staat Dinsdag versoek dat die uitslag nog nie bekendgemaak word nie. Sy regspan het wel aan Huisgenoot bevestig hulle gaan die uitslag in sy borgtogaansoek ophaal.

Hulle het genoem dat hulle binnekort weer in die Pretoria-Noord-landdroshof sal wees waar hulle om borgtog gaan aansoek doen.

Dit laat die vermoede ontstaan dat dit nie André (Smiley) van Wyk (24) se DNS was wat op die toneel gevind is nie, aangesien die regsverteenwoordigers herhaaldelik gesê het hulle wag op die uitslae van die DNS-toetse alvorens hulle om borgtog aansoek doen.

André het homself in September 2016 een Saterdag in die oggendure by die Pretoria-Noord-polisiekantoor oorgegee en beweer hy was betrokke by die moord op Anika (17), wat op 10 Maart 2010 grusaam in haar pa se huis vermoor is.

Hy en Anika was in ’n stadium klasmaats aan die Hoërskool Gerrit Maritz. Anika is verkrag, doodgesteek en haar hande is afgesny. Haar hande is nooit gevind nie. Daar is destyds bespiegel haar moordenaar het haar hande saamgeneem omdat daar DNS onder haar naels sou wees soos sy terugbaklei het. Daar is wel ander skrapse DNS-bewyse op die toneel gevind.

Nadat Smiley vir twee rondes psigiatriese waarneming na die Weskoppies-hospitaal gestuur is, het die hof in Desember verlede bevind hy is geskik om verhoor te word.