Die voorval het verlede jaar in die lugruim bo Wiltshire in Engeland gebeur. “Dis maar vir ons baie sleg vandag,” sê Emile se ma, Zaan, uit Bettysbaai aan Huisgenoot. “Ons het nog niks gehoor uit Engeland nie.” Emile verskyn in die Salisbury Crown Court op onder meer twee aanklagte van poging tot moord.

Daar word beweer hy het met Victoria se valskerm gepeuter voor sy op 5 April verlede jaar op 4 000 voet (sowat 1 220 m) uit ’n vliegtuig gespring het. Haar noodvalskerm het gelukkig oopgegaan en die valspoed van 160 km per uur tot ongeveer 50 km per uur gerem voor sy die grond getref het.

Sy het haar been, sleutelbeen en ribbes gebreek en haar ruggraat beskadig. Sy herstel glo steeds van haar beserings. Die media is verbied om met haar te praat.

Intussen is Emile vir nog ’n voorval van beweerde poging tot moord aangekla.

Tussen 28 en 31 Maart verlede jaar het hy glo met ’n aansluitingspyp na die gas vir hul huis gelol en so ook na bewering hul twee kindertjies, Lily (4) en Ethan (1), se lewe in gevaar gestel, het Ian Harris van die Crown Prosecution Service aan The Telegraph gesê.

Hy staan vandag tereg op twee aanklagte van poging tot moord op sy vrou; kriminele beskadiging en roekeloosheid en die bedreiging van die lewe van hul twee kinders.

Sy ma, Zaan, is vanjaar deur Lead SA bekroon vir die werk wat sy in die gemeenskap doen met haar pre-primêre skool op Bettysbaai. Verlede jaar het sy aan YOU, Huisgenoot se sustertydskrif, gesê: “Ek glo in my seun. Ek is lief vir hom. Hy is ons kind en ons ken hom. Daar is geen waarheid [in die bewerings nie]. Dis al wat ek kan sê.”

Sy het in Mei verlede jaar Engeland toe gevlieg en ’n ruk daar gebly om Emile te ondersteun. Hy en Victoria het in 2011 getrou. Hulle het mekaar ontmoet deur hul liefde vir valduik. Sy was ’n weermag-kaptein van Amesbury, ’n klein dorpie in Wiltshire in Engeland.

Emile was ’n instrukteur in die Britse Koninklike Weermag se fisieke opleidingskorps. Dis nie duidelik of hulle steeds daar betrokke is nie.

Emile het voor die “valskerm-ongeluk” glo uit hul huis getrek en hul twee kinders saamgeneem.

Die saak is uitgestel tot 18 November waar hy sal pleit. Hy bly uit op borgtog.

Ekstra bronne: telegraph.co.uk, thesun.co.uk, bbc.co.uk, dailymail.co.uk.