Die seuntjie van Suid-Afrika se voormalige Mej. Wêreld en haar man, die sakeman D’Niel Strauss, is Sondag gebore. En die nuwe ouers borrel behoorlik van dankbaarheid!

"Ek sou nooit kon droom dat ’n mens soveel liefde kan hê vir so ’n klein, volmaakte mensie nie,” sê Rolene aan Huisgenoot.

“Ek besef dit gaan ’n aanpassing wees om komende Maandag my studie te hervat, maar met ons ongelooflike ondersteuningstelsel weet ek dis meer as moontlik. “Ek sien uit daarna om my mediese graad vanjaar te voltooi en steeds die beste mamma te wees, ten spyte van al die uitdagings."

Die skoonheidskoningin het verlede jaar aan Huisgenoot gesê dat hul huishulp, Maria Mashinini, wat al 23 jaar vir Rolene se ouers op Volksrust werk, vir die jaar by haar in Bloemfontein gaan woon om haar met die baba te help.

Haar ma, Theresa Strauss, gaan gereeld kom hand bysit.

Die nuwe pa, D’Niel, se hart is ook vol dankbaarheid oor hul klein knapie.

"Ons is baie dankbaar vir die voorreg om ’n sterk, gesonde klein babaseuntjie ons eie te noem,” sê hy. “Ons raak elke dag liewer vir hom. Ons wil graag vir dr. Iniel Hattingh en die personeel van George Mediclinic bedank vir die vriendelike en professionele diens wat ons ontvang het.” “Ons ontvang ongelooflike ondersteuning van ons families en veral ouma Theresa en ouma Amelia Strauss (D’Niel se ma). Ons sal daarna streef om die beste ouers te wees uit dankbaarheid vir die wonderwerkie wat aan ons toevertrou is."

Rolene en D’Niel het voor hul seuntjie se geboorte saam met hul ouers op Hartenbos vakansie gehou. Dis ook hier waar die twee mekaar in 2011 ontmoet en einde 2014, net nadat Rolene as Mej. Wêreld gekroon is, verloof geraak het. Die egpaar, wat verlede jaar in Februarie getroud is, het sowat vyf maande gelede die goeie nuus van hul eersteling se koms met Huisgenoot-lesers gedeel.

A photo posted by Rolene Strauss (@rolenestrauss) on

Hulle het geweet hul seun gaan sy opwagting iewers rondom Nuwejaar maak en moes tydens hul vakansie in Hartenbos gereed bly.

Rolene het die dag van hul seuntjie se geboorte op Instagram geskryf: "Welkom, klein prins. Jy het ons harte gesteel en ons gevul met die grootste liefde en vreugde denkbaar. Ons is almal gesond gelukkig en ewig dankbaar vir ons bondel vreugde van 4,18 kg. My klein seuntjie, die wêreld is jou oester."

Rolene en D'Niel, ons deel in julle vreugde! Geniet elke oomblik saam met julle prinsie.