Asof die driejarige kleutermeisie, Poppie van der Merwe, vanuit haar graf praat, kan ’n mens nie help om ’n blik op die weerlose onskuld van die blonde en blouoog-meisie te kry wanneer haar fyn kinderstemmetjie in ’n hartroerende opgeneemde gesprek met haar pa opklink nie.

Christo van der Merwe (38), Poppie se biologiese pa, wat in Westonaria aan die Wes-Rand bly, het dié telefoongesprek enkele maande voor haar sy kind se dood in Oktober 2016 opgeneem.

Poppie het toe nog by haar ma, Louisa Koekemoer (45) en haar stiefpa, Kobus (43), in Orania in die Noord-Kaap gebly en Christo is net toegelaat om Poppie en haar ouer boetie (5) op Sondae te bel.

Hulle het kort voor haar beweerde moord op Dinsdag 25 Oktober na Brits in Noordwes getrek.

Wanneer Christo Poppie tydens die oproep op 31 Julie 2016 pols hoe dit gaan en waarmee sy besig is, vertel die peuter gretig vir haar pa sy “kyk tee-vee”. Jacobus Ludick, een van die Geregtigheid vir Poppie-aktiviste, het dié opname met Christo se toestemming aan Huisgenoot verskaf.

Hoewel ’n mens met tye sukkel om te hoor wat sy in haar sagte stemmetjie vertel breek dit ’n mens se hart wanneer Christo haar vra of sy al mooi groot word. “Pappa, ek is klein . . . Ek is die kleinste klein, ja.”

Sy vertel dan sy wil graag vir hom die liedjie Hansie Slim sing. “Hansie slim, berg wil klim . . . stok en hoed . . . pas hom goed . . . ” sing sy dan.

Dié welbekende kinderlied eindig met:

Maar die moederhart is seer,

Hans is in die huis nie meer,

hoor nou net, moeder sug,

hardloop gou-gou terug.

Maar Christo vertel dit is egter sy vadershart wat gebroke gelaat is oor sy “meisiekind” wat hy nou nooit weer gaan sien nie. Hy het geen simpatie met Louisa nie en wil slegs hê geregtigheid moet geskied.

Die hoogste hof gaan nou moet probeer bepaal hoe dié lewenslustige klein meisie maande ná die oproep op ’n plaas naby Mamogaleskraal glo so erg aangerand dat sy daardie aand by haar aankoms by die plaaslike hospitaal aan haar beserings beswyk het.

Kobus is daardie nag eerste deur die polisie inhegtenis geneem. Hy is intussen in die plaaslike landdroshof borgtog geweier.

Louisa is in ’n skokwending ook einde 2016 ook aangekeer. Die egpaar sal nou saam op ’n klag van moord tereg staan wanneer die saak na die hooggeregshof in Pretoria vir hulle verhoor oorgeplaas word.

Louisa, het ná haar dogter se dood, eksklusief aan Huisgenoot haar weergawe van die middag se gebeure vertel. Sy het beweer, Poppie, het die dag van haar dood, soos in die oproep, ook televisie gekyk. Volgens haar het Poppie vaak geraak en by die televisie op die mat aan die slaap geraak.

Kobus was volgens haar “woedend” hieroor toe hy met die kruideniersware vir hulle braai die aand aankom en die kind al sien slaap. Louisa het beweer hy moes haar dogter doodgemaak het terwyl sy en die boetie uit die huis is om die kruideniers uit die bakkie te gaan haal. Sy het beweer sy het niks gehoor nie.

Louisa en Kobus sal na verwagting 25 Januarie saam in die hof verskyn. Louisa het nog nie daarin geslaag om teen haar mislukte borgaansoek te appelleer nie.

Luister hier na die roerende oproep tussen Poppie en haar biologiese pa:

Hier is die volledige transkripsie van die oproep:

Poppie: Hallo, Pappa . . .

Christo: Hallo my meisiekind. Goed en jy! Wat maak jy?

Poppie: Ek kyk tee-vee . . .

Christo: Kyk jy TV? Ag, dis te pragtig my meisiekind, en wat kan jy nog vir Pappa vertel?

Poppie: Pappa . . .

Christo: Ja, my meisiekind?

Poppie: Ek kyk tee-vee, Pappa . . .

Christo: Ja?

Poppie: Ek kyk tee-vee.

Christo: O, kyk jy TV?

Poppie: Ja . . .

Christo: Ja, my meisiekind?

Poppie: Ja . . .

Christo: En word jy baie mooi groot?

Poppie: Ja, ek’s die kleinste.

(Iemand hoes in die agtergrond)

Poppie: Pappa, ek is klein.

Christo: Is jy klein?

Poppie: Die kleinste klein . . . já.

Christo: O, mmm.

Poppie: Pappa, ek wil Hansie Slim . . . sing.

Christo: Sing gou vir my Hansie slim.

Poppie: Hansie slim, berg wil klim . . . stok en hoed . . . pas hom goed . . . (onhoorbaar)

Christo: Jaaa . . .

Poppie: (onhoorbaar oor nog ’n liedjie)

Poppie: Pappa, ek wil (onhoorbaar) sing . . .

Christo: Oukei . . .

(Klankgreep eindig)