Sy het gesels oor haar dogter en skoonseun, wat eersdaags weer in die landdroshof op Brits voorkom.

“Dit gaan maar swaar met my my. Ek was baie siek. My hart wil nie al hierdie goed vat nie,” het Susan (70) aan Huisgenoot gesê.

Susan se dogter, Louisa Koekemoer (45), en dié se man, Kobus (43), staan weens Poppie se dood tereg op ’n klag van moord. Hulle sal oor vyf dae weer in die landdroshof op Brits verskyn.

Die egpaar word saam van die meisie se dood op 25 Oktober 2016 op ’n vervalle hoewe buite die dorp aangekla. Sy is na bewering doodgeskop, en die lykskouing het getoon sy het ook talle ou beserings gehad. Poppie is met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Kobus is die volgende dag in hegtenis geneem, en Louisa op 15 Desember. Albei se borgtogaansoek is intussen geweier.

Lees ook: Ondersoekbeampte ‘begin huil’ toe hy foto’s van Poppie se lykie sien

Susan vertel sy sal weens die aanslag van die gemeenskap nie Dinsdag in die hof wees nie. “Dit maak my senuwees klaar. Dit is nie goed vir my gesondheid nie,” vertel sy.

Die saak is vroeër uitgestel vir verdere ondersoek en om ’n hooggeregshofdatum vir die verhoor te bekom.

Susan vertel sy glo volstrek in haar dogter se onskuld, maar wil niks meer met haar skoonseun te doen hê nie.

“Ek wil hom nie eens sien nie,” sê sy. “Ek dink nie aan hom as familie nie. Vir my is hy niks. Hy is die man wat in ons lewe gekom en alles verwoes het.”

Sy vertel sy kan Louisa, wat nou op ’n ander plek as Kobus aangehou word, net twee keer per week vir 30 minute op ’n slag besoek. Sy neem dan vir haar toiletware en met die laaste besoek ook ’n duvet, wat die beamptes eers nie wou toelaat nie.

Volgens Susan het Kobus nou ’n derde keer agter tralies sy lewe probeer neem.

Huisgenoot het met die egpaar se laaste en eerste verskyning saam op 24 Januarie berig Kobus het in die Brits-polisieselle met ’n lem diep snye in sy linkerarm gemaak.

Susan vertel die paartjie skryf nie meer vir mekaar briewe nie. Sy voer aan Louisa het net met Kobus kontak gehou “om inligting uit hom te kry”. Volgens Susan het Louisa haar kinders net ’n gewone pak slae gegee “wanneer hulle stout was.

“Kleintjies is maar stout. Wanneer hulle kos gooi, moet ’n mens hulle leer dit is lelik. Soos enige ma moes sy hulle leer wat reg en wat verkeerd is.”

Die ouma vertel sy mis haar kleinkinders, veral Poppie. Sy begin huil toe sy vertel: “Sy het altyd vir my Kumbaya, My Lord kom sing. Ek mis daai kind verskriklik baie.”