SY WOU sommer nou al begin spaar vir haar 50ste verjaardag oor drie jaar, want Hannetjie Walters wou net een geskenk vir die viering van haar vyfde dekade op aarde hê: Sy wou die dag saam met al drie haar broers in “die paradys” deurbring.

Dit was Hannetjie se droom om al haar broers te nooi om saam by haar te kom kuier in die stukkie hemel op aarde waarheen sy en haar man, Gareth, drie jaar gelede getrek het.

Op Île aux Nattes, ’n piepklein eiland van sowat 5 km in deursnee aan die ooskus van Madagaskar, het hulle vir hulself ’n lewe geskep wat jy gewoonlik net in storieboeke en eksotiese flieks teëkom. Die houthuis en spa wat hulle met hul eie hande gebou het, was minder as 10 m van die see; die uitsig van hul voorstoep oor die kristalhelder waters van die Indiese Oseaan was asemrowend.

Hulle het soggens piesangs en papajas vir ontbyt uit hul tuin gepluk en saans by verbygaande vissermanne krewe, vis en garnale vir aandete gekoop.

“Dis die paradys, ons leef ’n droom,” het die lewenslustige Hannetjie gereeld gejubel wanneer sy haar broers in Suid-Afrika gebel het.

Hulle moes kom kuier, het sy gevra, sommer al drie saam. Die vier was nog altyd na aan mekaar, en hul vriendskap en liefde moes eenvoudig die duisende kilometers tussen Suid-Afrika en Madagaskar oorbrug.

Maar dit was toe nie Hannetjie se verjaardag wat die bekende regisseur Gerrit Schoonhoven en sy broers, Coenie en Henk, uiteindelik saam na hul suster se geliefde eilandparadys gelok het nie. Dit was om finaal afskeid te neem van hul energieke, kreatiewe suster en haar kunssinnige, intelligente man.

Hannetjie en Gareth is op Vrydagaand 11 Junie oorval en vermoedelik met ’n byl vermoor waar hulle in hul huis op die eiland ontspan het. Van wat die polisie kon aflei, het Gareth op die stoep sit en musiek luister en Hannetjie het op die bed in die hoofslaapkamer ’n boek lê en lees toe iets hul aandag in die tuin getrek het.

Wat daarna gebeur het, is ’n raaisel . . .

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 1 Julie 2010

Bespreek vir Skouspel!