Danksy Modder en Bloed gaan die ontbering, uithouvermoë, dapperheid en trots van ’n nasie eersdaags op die grootskerm te sien wees. En nou is die eerste lokprent daarvoor eindelik hier.

[caption id="attachment_112271" align="alignnone" width="469"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Dit is 1901 en terwyl die Anglo-Boereoorlog (ABO) in Suid-Afrika woed, vermoor Britse soldate die Boere-kryger Willem Morkel (Stian Bam) se vrou en enigste kind.

Willem word gevange geneem en verban na St. Helena, waar ander Boere ook as krygsgevangenes aangehou word. Weens die verskriklike omstandighede op die eiland is elke dag ’n stryd om oorlewing, maar dit kweek kameraadskap onder die mans en hulle word soos familie.

Kol. Swannell (Grant Swanby), wat in beheer is van die konsentrasiekamp, haat Afrikaners en maak hul bestaan so moeilik moontlik. Dan aanvaar Willem ’n aanbod wat sal lei tot die belangrikste stryd van die Boere se lewens . . .

Om die eksklusiewe uitreiking van die heel eerste aksiebelaaide lokprent vir Modder en Bloed te vier, het Huisgenoot met Stian en sy medester Charlotte Salt gesels.

1. Stian, hoe sou jy jou karakter in Modder en Bloed opsom?

Willem is ’n gewone man wat hom in ’n ongewone situasie bevind; ter wille van ander moet hy homself uit die donkerste dieptes van verlies en verdriet uitgrawe. Hy het ’n oerinstink om te lei en gee ’n groep onwaarskynlike helde daardeur die kans om bo hul omstandighede uit te styg. Deur die loop van die fliek raak Willem as’t ware ’n metafoor vir die volk.

[caption id="attachment_116505" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

2. Het jy met ’n liefde vir die ABO in jou ouerhuis groot geword? Dink jy jy verstaan daardie deel van die verlede beter ná jou betrokkenheid by Modder en Bloed?

Ek het met alle soorte geskiedenis grootgeword en dit nog altyd interessant gevind. Ek het in die 1980’s in Walvisbaai, Namibië, grootgeword; uiteraard was die grensoorlog vir my ’n groter werklikheid. Tog was ek te jonk om die implikasies van oorlog te verstaan.

Die ABO was vir my as kind ’n geskiedkundige gebeurtenis, maar met tyd vorm jy later jou eie opinie en gedagtes daaroor. Met die navorsing ter voorbereiding vir ’n rol kom ander elemente natuurlik by wat jou dwing om anders te dink en die verlede te herformuleer. Ek weet nie of ek dit beter verstaan nie. Jou taak as akteur is tog om die mense te probeer verstaan, en daarin lê die worsteling.

3. Hoe het jy die stel ervaar? Was daar enige uitdagende oomblikke?

Modder en Bloed is ’n geleentheid wat hom net een keer in ’n mens se lewe voordoen. Dis onbeskryflik om so intens deel te wees van ’n proses. Ek staan nederig voor almal in die filmspan. Die trots en liefde vir hul ambag was in elke departement duidelik sigbaar. Dit maak die werk makliker, want almal in die groep het ’n gemene doel.

En natuurlik, met Sean (Else) aan die stuur van sake, is die proses net soveel makliker en lekkerder. Al ding wat niemand kon beheer nie, was die weer, so dit was seker die moeilikste deel. Al wat dit soms moeilik om in gure weer optimisties en doelgerig te bly, het niemand ooit gekla nie. Behalwe ek. Net soms. Wanneer dit te koud was.

[caption id="attachment_116506" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

4. ’n Groot deel van die aksie speel af rondom die sentrale rugbywedstryd tussen die krysgevangenes en die Britse soldate op St. Helena. Is jy lief vir rugby?

Ek kyk dit graag, maar het nie toegang tot al die televisiekanale nie, so my belangstelling in veral provinsiale rugby ly daaronder. Met groot internasionale wedstryde sal ek wel my weg tot by ’n televisie vind en saamkyk.

Intussen is my pa gelukkig daarmee om my op die hoogte te hou. As kind het ek altyd vir die Noord-Transvaal geskree, maar vandat ek ’n Kapenaar geword het, is ek ’n Stormer.

5. Dink jy Modder en Bloed is die mees ambisieuse Afrikaanse rolprent tot dusver?

Sjoe, dis ’n moeilike vraag! Ek vind dit beslis ambisieus, maar daar is baie Afrikaanse films wat die grense verskuif. Ek dink Modder en Bloed is epies wat skaal betref en dit kan as ikonies beskou word. Dit maak dit uniek, maar binne die Suid-Afrikaanse filmlandskap is dit steeds moeilik om ’n fliek soos Die Kandidaat (1968) te klop.

[caption id="attachment_116507" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Charlotte, ’n Britse aktrise, vertolk die rol van Katherine Sterndale, wat saam met die Britse kontingent op St. Helena woon. Katherine ontwikkel gou ’n sagte plekkie vir die Boere krygsgevangenes en stamp koppe met haar landgenote oor die manier waarop hulle die Boere behandel.

1. Waar het jy van Modder en Bloed te hore gekom en hoe het jy daarby betrokke geraak?

Toe my agent vir my die draaiboek stuur, was ek gek daaroor. Ek gryp enige kans aan om ’n periodekostuum aan te trek! ’n Ontmoeting met die regisseur en vervaardigers is gereël. Hul energie en opgewondenheid oor die draaiboek was so aansteeklik, en dit was dit.

2. Het jy tydens jou skooljare in Engeland van die ABO geleer? Hoeveel het jy van die oorlog geweet voor jy aan die fliek begin werk het?

Ek is skaam om te erken ek het bitter min daarvan geweet. Skole in die Verenigde Koninkryk is geneig om op die Tudors te fokus en dan na die Eerste en Tweede Wêreldoorlog te beweeg. En dan is jy klaar met skool.

3. Hoe het jy dit ervaar om in Suid-Afrika en met die oorwegend Suid-Afrikaanse span te werk? Watter plekke of mense het vir jou uitgestaan?

Dit was my eerste maar gewis nie my laaste besoek aan Suid-Afrika nie. Ek het verlief geraak op Kaapstad – wat ’n ongelooflike, “buzzy” en koel plek is dit nie. Boonop het dit alles wat jy nodig het. Die filmspan was hoofsaaklik van Johannesburg en van die lieflikste, talentvolste mense waarmee ek nog saamgewerk het. Wat ’n plesier!

4. Met wie het jy veral op die stel gekliek en dalk selfs ’n hegte vriendskap mee gesmee?

Almal! Grimering, kameraspanne, akteurs, vervaardigers . . . dit was werklik ’n spesiale tyd.

[caption id="attachment_116508" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

5. Wat kan jy ons vertel van jou rol in Modder en Bloed? Watter soort mens is Katherine?

Katherine is soort van die gehoor se morele kompas in die fliek. Emily Hobhouse het haar inspireer en haar reis is een van sterkte: Sy leer by die Boere om haar hartseer in moed te omskep.

6. Hoe het jy die Afrikaanse werkomgewing ervaar? Kan jy dalk al ’n bietjie Afrikaans praat of verstaan?

Om met ’n veeltalige filmspan saam te werk is algemener omdat die rolprentbedryf op soveel vlakke gedy. Ek werk tans in die Midde-Ooste en dit is altyd maklik omdat ekstra moeite gedoen word om kommunikasie te bevorder. Die nadeel hiervan is dat ek so lui voel omdat ek net een taal kan praat.

7. Wat doen jy in jou vrye tyd? Enige stokperdjies?

Omdat ek so min by die huis is, doen ek in my vrye tyd baie moeite om my familie en vriende te sien.

8. Sal jy terugkeer na Suid-Afrika vir ’n vakansie of dalk om jou hier te kom vestig?

Ek sal nooit uit Engeland weggaan nie; ek het ’n pragtige huis daar. Maar ek sal enige geleentheid benut om weer in Suid-Afrika tyd deur te bring – of dit nou vir werk of plesier is. ’n Safari is volgende op die lys.

Modder en Bloed word 1 April 2016 in fliekteaters uitgereik.

Lees ook ons onderhoud met die film se regisseur, Sean Else, hier.