Dit is vir die ma van die sesjarige Kellan Denny van Johannesburg ondenkbaar dat haar jongste kind weer saam met sy maats terug by die skool is net meer as ’n week nadat hy onverwags op ’n privaat wildplaas in Limpopo deur ’n luiperd gepak en meters ver byna na sy dood gesleep is.

[caption id="attachment_124943" align="alignnone" width="600"]fdgdfg Karen Denny, Kellan se ma, vertel haar seuntjie herstel wonderbaarlik na hy verlede week deur 'n luiperd aangeval is. Foto's: Verskaf[/caption]

“Ek kan dit steeds nie glo nie!” het ’n nog verslae Karen Denny (39) Donderdag telefonies in ’n eksklusiewe onderhoud aan Huisgenoot oor haar seuntjie se wonderbaarlike oorlewing en herstel vertel. “Hy’s ’n baie gelukkige klein mannetjie!”

Kellan het beserings aan sy nek en rug opgedoen en moes ná die aanval steke links agter aan sy rug en skouer kry waar die luiperdmannetjie hom gegryp het. Karen vertel die bytwonde was sowat 2 cm diep, maar die kneusings is veel dieper.

Hoewel hy nog pynmedisyne en traumabehandeling deur middel van spelterapie kry, het sy en haar man, Justin (42), besluit dit is goed vir hom om so gou moontlik weer in sy ou roetine te kom.

Lees ook: ‘Die dag toe die dokter nie my ander baba kon vind nie,’ vertel pa van tweeling

“Ons as volwassenes besef die omvang van wat kon gebeur het – hoe naby die byt aan Kellan se ruggraat was, hoe naby aan sy hoofslagaar . . . Maar Kellan is nog klein, hy besef nie regtig nie. Maar dit is ook ’n goeie ding; dit maak dit vir hom minder traumaties. Kinders is baie veerkragtiger; dit is eintlik iets wat ’n mens van hulle kan leer.”

Karen vertel Kellan het saam met sy pa en ouer boetie, Kai (8), ’n blaaskans by die Ntsiri privaat wildreservaat naby Hoedspruit geneem toe die skokvoorval verlede Dinsdagmiddag gebeur.

[caption id="attachment_124944" align="alignnone" width="600"]Justin Denny by sy seuntjies, Kai (links) en Kellan. Foto: Facebook Justin Denny by sy seuntjies, Kai (links) en Kellan. Foto: Facebook[/caption]

Karen het in Johannesburg weens werkverpligtinge agtergebly. Haar man en die kinders het die Maandagaand by die reservaat, waar hulle ’n tyddeel het, aangekom.

“My man besoek al die reservaat vandat hy self ’n kleuter was. Ons is almal baie ‘bosbewus’. Hy en die kinders het ’n rustige oggend gehad en die kinders het digby die huis gespeel toe die luiperd kort ná middagete toeslaan.” Karen vertel hoewel hulle weet van die wilde diere wat daar los rondloop, het so iets nog nooit gebeur nie en was dit uiters ongewoon.

“Wilde diere is banger vir jou as jy vir hulle. Anders as miskien ’n nuuskierige hiëna of apie, kom hulle nie daar naby nie. Dalk het die luiperd Kellan vir ’n apie aangesien omdat hy daar oor die rondawel se lae mure en in ’n boom daar naby geklouter het.”

Die luiperd het skielik uit die niet verskyn en Kellan voor sy pa gegryp.

[caption id="attachment_124945" align="alignnone" width="600"]Kellan is erg in die voorval beseer, maar herstel vinnig. Foto: Verskaf Kellan is erg in die voorval beseer, maar herstel vinnig. Foto: Verskaf[/caption]

Volgens Beeld het drie vakansiegangers die geraas gehoor en na die toneel gehardloop. Die luiperd het Kellan aan die skouer beetgehad en sowat 30 m in die bosse ingesleep. Met al die geraas van sy pa, en “die genade van God”, het hulle die luiperd die skrik op die lyf gejaag. Die dier het Kellan toe wonderbaarlik gelos.

Die luiperd is nie van kant gemaak nie.

Lees ook: Hope, die 12-jarige renosterkoei, kry neusoperasie ná grusame stroping

Karen het berigte bevestig dat ’n dokter en verpleegster wat ook daar vakansie gehou het, Kellan op die toneel kon behandel. “Dit is vir my nogal skokkend dat daar geen privaat mediese geriewe is nie, maar hulle het reggekom om Kellan se wonde daar skoon te maak en die nodige inspuitings vir onder meer hondsdolheid te kry.”

Sy het Woensdagoggend die eerste vlug van die Internasionale Lughawe O.R. Tambo gehaal en by haar gesin op Hoedspruit aangesluit. Sy het die Donderdag saam met hulle teruggekeer.

Weens die hoë risiko vir infeksie het Karen-hulle Kellan na Johannesburg geneem vir verdere behandeling in ’n plaaslike hospitaal.

“Ons kan net God dank dat Kellan se storie ’n gelukkige einde het. Die reservaat is waar ons altyd gelukkig saam is. Ons sal waarskynlik in Julie weer terugkeer. Natuurlik sal ’n mens dan nog parater wees. Ons wil weer saam met Kellan teruggaan; ons wil nie hê hy moet vir ewig vrees in sy hart koester nie. Dit was nie die dier se skuld nie.”

Lees ook op Huisgenoot.com:

Ontmoet Noorweë se vuurwarm ‘Viking’ wat besig is om Instagram te verower

‘Hulle gil, skree en baklei in hul slaap!’: Kenners gee raad as jou geliefdes aan vreesaanvalle snags ly

Allesvernietigende brand lei tot duisende mense se ontruiming in Kanada

Kyk die ongelooflike oomblik toe ’n ongebore babameisie sigbaar in haar ma se maag omrol!