SY HET geen selfmoordbrief agtergelaat nie, maar toe Helena van Dyk in die vroeë oggendure van die feestelike nag ná die afskop van die Wêreldbekertoernooi haar eie lewe neem, het haar man en dogter presies geweet wat haar daartoe gedryf het.

Ná 18 maande van rou oor hul geliefde seun, Richardt (20), wat noodlottig met ’n knipmes gewond is terwyl hy by ’n vriend op Stellenbosch gekuier het, wou die 53-jarige ma nie meer leef nie.

‘‘Sy het haar doodgetreur oor daardie kind. Sy het vir my gesê sy sal nooit oor sy dood kom nie; sy sal dit nooit, ooit kan verwerk nie,’’ vertel haar man, Jannie (56), in die sitkamer van hul huis in Durbanville buite Kaapstad.

Dit was ’n vrolike plek toe Richardt nog geleef het, met jong mense wat dag en nag hul drumpel deurgetrap en soms tot laat in die aand om die braaivleisvuur gekuier het. Maar nou is die atmosfeer somber.

Teen die muur hang ’n swart-en-wit foto van Richardt wat vir sy gedenkdiens geraam is. Dis byna ondenkbaar dat sy bedroefde pa en suster nou ook vir Helena moes groet.

‘‘Hierdie huis het 18 maande van rou agter die rug wat geen mens sal verstaan nie. My vrou is weg, my seun is weg,’’ sê Jannie terwyl die trane in sy oë opwel. Net Ernalize (27) en sy skoonseun, Stephan Gunter, bly nog oor.

Jannie sê verslae: “Vyftig persent van my gesin is weg . . .’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 8 Julie 2010

Bespreek vir Skouspel!