Sy het onlangs vir die eerste keer in twee jaar ’n album Dans op Jou Eie, uitgereik. En hier is Liza Brönner se splinternuwe musiekvideo vir haar enkelsnit Verlief op die Idee van My.

“Die video gaan oor ’n man wat verlief is op die idee van ’n spefieke meisie. Hoe hy dink sy moet wees: haar geaardheid, voorkoms ensovoorts,” vertel Liza. “Maar eintlik is sy glad nie so nie.”

In die video is daar ’n vervaardiger wat ’n sangeres allerhande tipe klere laat aantrek en truuks doen, want hy dink dis hoe sy die beste vertoon gaan word, sê Liza.

Lees ook: Liza Brönner sê nee vir boelies

“Maar eintlik maak dit haar baie ongemaklik. Sy volg dan haar eie kop en omhels die klank en voorkoms wat die beste vir haar werk.”

Dit is Liza se eerste musiekvideo in twee jaar.

“Ek het dit vreeslik geniet om in die laaste toneel die mikrofoon te laat val en weg te stap. Dis nie in my geaardheid nie, maar dit iets wat ek impulsief gedoen het toe die kamera rol en dit het gewerk. Nog ’n hoogtepunt was toe ek uiteindelik net myself kon wees en lekker saam met die band kon optree. Ek was in my element!”