Hul troue was ’n sprokie, en toe was die wittebrood sprokiesagtig verby.

Daar was drie droombestemmings, vyfsterhotelle, kersligetes, eksotiese inkopietogte, butlers wat reggestaan het om al die wittebroodspaartjie se wense te bewaarheid, ’n Egiptiese lugballonvaart en luilekker someraande met skemerkelkies vir mnr. en mev. Darren langs turkoois waters.

“Ek het drie weke lank net gerus en vakansie gehou,” vertel Kurt. “Dis die langste vakansie wat ek nog gehad het sedert ek matriek geskryf het.”

Vir Dunay – die Maledive-eilande was haar keuse – was die wittebrood ’n hemelse ervaring.

‘‘Dit klink baie selfsugtig, maar ek het Kurt drie weke lank net vir myself gehad,” vertel sy.

Die dag ná die troue het die twee op die vliegtuig Doebai toe geklim. “Dunay se tas was ’n bietjie swaarder as myne; daar was ’n bikini vir elke geleentheid. Sy het altyd stunning gelyk!” vertel Kurt.

In Doebai het die Darrens in ’n suite op die dakterras van Sol Kerzner se Atlantis-hotel gebly.

“Dit was fantasties!’’ Die eerste aand het hulle met ’n tradisionele dau op die kanaal in die stad gevaar en toe hul dag met ’n kersligete in ’n Franse restaurant afgesluit.

En natuurlik moes Dunay ’n draai gaan maak by die grootste inkopiesentrum in die wêreld, die Dubai Mall – 1 200 winkels op 440 000 m², ’n gebied so groot soos 62 rugbyvelde!

Toe het Kurt sy vrou omgepraat en by die Mall of Emirates het die twee ski-oorpakke aangetrek en soos kinders op die mensgemaakte ski-baan baljaar.

“En ons het onmiddellik daarna uit temperature van -3 °C in ’n viertrekvoertuig geklim en vir ’n rit op die duine gegaan. Dit was van die een uiterste na die ander. Eers het ons in die sneeu geski en toe op ’n sandbord teen die duine afgegly.”

En hoe sluit ’n mens so ’n dag beter af as met skemerkelkies en ’n ete op die duine?

Sien pragfoto's en lees die volledige artikel in die Huisgenoot, 10 Februarie 2011. Kry die ikoonprogram en kiek die ikoon wat saam met die artikel verskyn met jou foon om ’n videogreep van Kurt en Dunay se troue te sien.

GRATIS KURT-KONSERT

Kom luister na Kurt Darren by Huisgenoot se gratis musiekkonsert op Saterdag 12 Februarie by die Drakenstein Korrektiewe Sentrum buite die Paarl.

Ons vier die dag nou 21 jaar gelede toe Nelson Mandela daar vrygelaat is ná 27 jaar in die tronk. Daar is ’n 27 km-padwedloop, pretlope en ’n plaasmark. Kurt het ’n lang verbintenis met die Nelson Mandela-stigting en het ook in 2008 by die 46664-konsert in Londen opgetree.

Al die besonderhede is op bl. 99 van die Huisgenoot, 10 Februarie 2011.