n Week ná haar 18de verjaardag vra die donkerkop uiteindelik vir die maatskaplike werker die vraag wat al lank by haar spook: “Wie is my biologiese ouers?” Male sonder tal het Maryke Low al gewonder: Leef hulle nog? Het sy boeties en sussies?

Daar is soveel vrae. Kom haar liefde vir die klavier en die kitaar dalk van haar ouers? En haar skryftalent?

Sy het van kleins af geweet sy is ’n aangenome kind, maar dit was eers op 16 jaar dat sy werklik oor haar identiteit begin wroeg het.

Volgens wet moes sy wag tot haar 18de verjaardag, en dit is ’n emosionele dag toe die oomblik eindelik aanbreek. Haar aanneemouers sit langs haar toe die maatskaplike werker in haar kantoor in Pretoria uit die bloute vra: ‘‘Weet jy wie is Sarah Theron?’’

Maryke is uit die veld geslaan. Ja, sê sy verbaas, sy weet Sarah werk in die vermaakbedryf.

Dan vra sy nog iets wat Maryke heeltemal onkant vang: ‘‘En weet jy wie is André le Roux? Hy’s beter bekend as André le Toit of Koos Kombuis . . .’’

Natuurlik weet ek wie hy is, dink Maryke. Koos is immers al sedert haar laerskooldae haar gunsteling-sanger!

En toe sê die maatskaplike werker iets wat die jong vrou nie eens in haar wildste drome sou kon optower nie: ‘‘Wel, Koos en Sarah is jou biologiese ouers.’’

Dit is drie jaar later, ’n paar dae ná Maryke se mondigwording. Sy lyk nes haar biologiese ma – dieselfde vol mond, breë voorkop, groot oë.

“Ek het Sarah se uithouvermoë en Koos se humorsin,” sê die tweedejaarstudent in media en kommunikasiekunde aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth met ’n laggie.

Sy noem hulle op die naam, want haar ma en pa sal altyd die mense bly wat haar en haar aanneembroer grootgemaak het.

Maar tog . . . “Ek het van gr. 6 al oor my ouers gewonder. As ek by maats gekuier het, sou ek soms later huil en wonder of ek dalk iewers ’n sussie het. Ek het met Kersfees aan my ouers gedink en gewonder of hulle nog leef.’’

Voor sy hulle mekaar die eerste keer sou ontmoet, het die maatskaplike werker gereël dat Koos en Sarah vir Maryke briefies stuur en ’n foto van hulself daarby insluit.

Eers Koos, en later Sarah, sou toevallig albei kort daarna in Centurion optree, en die maatskaplike werker het gereël dat hulle mekaar daar ontmoet.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 20 Mei 2010.