OP DIE 126ste dag van hul aanhouding op die eiland Jolo in die suide van die Filippyne stel Monique Strydom haar testament op. Op ’n kosbare velletjie papier maak sy ’n lysie van haar besittings. Die tuinmeubels, die motor, elke dingetjie bemaak sy sorgvuldig aan haar geliefdes.

Dit is 26 Augustus 2000. Ná vier maande van honger en vrees is sy emosioneel en fisiek teen die grond. Callie, haar man, was die hele tyd haar rots. Maar vandag is ook hy vir die eerste keer depressief. Sedert die Abu Sayyaf-rebelle hulle twee en nog agt buitelandse vakansiegangers by ’n duikoord in Maleisië gevange geneem het, word daar onverpoos met die rebelle onderhandel oor hul vryating. Maar elke keer loop dit op niks uit nie.

En nou het Monique nie meer krag oor om aan te hou hoop nie. Hier gaan sy nooit uitkom nie, dink sy. Hier gaan sy sterf.

Maar dié nag het sy ’n droom wat die koers van haar lewe vir ewig sal verander. Sy gaan lewend uit hierdie oerwoud kom en dan gaan sy ander help, droom sy. Toe sy wakker word, weet sy wat dit is: ’n boodskap van God.

Dit is ’n ander Monique wat die volgende dag in hul skuilplek wakker word. Met nuwe energie skryf sy ’n brief aan Veronica, haar suster en sakevennoot. Ons moet ’n skakelbeampte aanstel, skryf sy. Ons gaan ’n welsynorganisasie begin.

Elfuur die oggend sê sy vir Callie: “Ons kan nou maar vryhelaat word."

Drie uur later daag ’n bakkie uit die bloute by die kamp op. Vier vroue en ’n man gaan vrygelaat word. Monique is een van hulle.

TIEN jaar later sit dieselfde vrou, 46 jaar oud, bruingebrand en goed versorg, op die rusbank in haar huis in Welgemoed buite Kaapstad. Die passie vir liefdadigheid wat daardie nag in Jolo gebore is, blink steeds in haar blou oë.

In die jare daarna het sy haar florerende media-agentskap tot niet gemaak en met haar liefdadigheidswerk die lyding van honderde kinderslagoffers van misdaad versag deur kindervriendelike traumakamers in polisiekantore in te rig. Sy het ook al duisende mense met haar motiveringspraatjies bereik.

Monique glo vas dat dit wat sy nou vir ander doen, so bestem was.

Ná hul terugkeer na Suid-Afrika was die egpaar in aanvraag vir openbare optredes en het hulle ’n boek geskryf oor hul ervarings. Hulle het die Callie en Monique Strydom Trust gestig en al die inkomste wat hulle so verdien het, in die liefdadigheidstrust gestort.

Toe gaan gee Monique ’n praatjie by ’n plek van veiligheid vir mishandelde vroue en kinders.

“Ek het in ’n gastehuis gebly en daar het ’n vrou vir my ’n briefie gebring en gesê: ‘Ek het ’n boodskap vir jou,’ ” vertel sy.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 19 Augustus 2010