Odette Schwegler, woordvoerder van die Van der Westhuizen-familie, het Maandag aan Huisgenoot bevestig die familie het ’n nuwe “spesialis”-regspan aangestel en het reeds die middag met die nuwe span gekonsulteer. Sy wou nie sê wie dié span is nie.

Op ’n vraag of Ferdi Hartzenberg, Joost se prokureur en hegte vriend, afgedank is, het sy dit ontken en slegs bevestig dat die familie die besluit geneem het om ’n nuwe span aan te stel en Ferdi se mandaat te beëindig.

Ferdi het Maandag op navraag aan Huisgenoot gesê hy is nie bewus daarvan dat die familie ’n nuwe regspan aangestel het nie. “Ek het geen instruksie in die verband gekry nie.”

Dié verwikkeling kom nadat die sangeres Amor Vittone, Joost se vervreemde vrou en die ma van sy twee minderjarige kinders, se regspan onlangs ingelig is die familie sal nie langer die stryd om die geldigheid van Joost se laaste testament verder voer nie. Volgens dié testament erf Amor niks en die kinders alles.  

Joost van der Westhuizen (Foto: Huisgenoot-argief)

Die testament, wat deur Ferdi ingedien is, is onlangs deur die meester van die hof verwerp op grond daarvan dat Joost dit nie self onderteken het nie, het Odette vroeër in ’n verklaring aan die media bevestig. Die testament het ook nie aan alternatiewe wetlike vereistes voldoen wat nodig is in die geval van Joost omdat hy weens sy siekte nie self kon teken nie. Ferdi wou nie hierop kommentaar lewer nie.

Huisgenoot het by ’n betroubare bron verneem die familie was woedend hieroor. Dieselfde bron het bevestig Ferdi is afgedank.

Die meester van die hooggeregshof het intussen op 18 Julie die testament wat Joost en Amor in 2009 saam opgestel het, aanvaar. Volgens dié testament erf die langslewende gade (in dié geval Amor) alles. By die langslewende gade se afsterwe sal alles na die kinders gaan, wat die langslewende gade oorleef. 

Odette wou nie op ’n vraag antwoord of die familie nou weer beoog om die geldigheid van hul testament verder te voer nie. Sean Hefferman van LP Baartman Prokureurs, Amor se regsverteenwoordiger, het wel Maandag bevestig die familie het die bekende Johannesburgse prokureur Ulrich Roux van BDK Prokureurs aangestel. 

Sean het vroeër aan Huisgenoot aangedui hulle het  ’n formele ondersoek na die werklike waarde en inhoud van Joost se boedel geloods. Hy het berigte dat Joost bankrot is ontken: “Daar is nog nooit deur ons berig dat die boedel van wyle Joost van der Westhuizen soos dit in die media staan ‘feitelik leeg is nie’,” het hy gesê.

Odette het vroeër ook ontken Joost was ten tyde van sy dood op 6 Februarie ná ’n lang stryd teen motorneuronsiekte “platsak” en het aangevoer die meerderheid van Joost se bates was nie op die voorlopige inventaris gelys nie omdat dit in die J9-trust, waarvan die kinders die enigste begunstigdes is, geplaas is.