By 'n watergat in die Klein-Karoo wag drie mak olifante ewe rustig op Jakkie Louw en sy bruid.

’n Entjie daarvandaan, op die wildreservaat Buffelsdrift buite Oudtshoorn, trek Anél van Schalkwyk in ’n luukse tent aan. Buite strek die vlaktes tot doer in die verte, en ’n wolkkombers beloof dalk later reën.

Die bruid se oë skitter nes die Swarovski-kristalle wat spesiaal vir haar Simon Rademan-skepping ingevoer is.

Die rondings van haar swangerskap van vier maande is net-net sigbaar onder die vyf lae sagte materiaal van haar trourok.

Toe die twee by die watergat aankom, kry Jakkie kans om sy bruid mooi te bekyk. En toe is die gladdebeksanger van Een Miljoen Woorde skielik sonder woorde. ‘‘Wow!’’ is al wat oor Jakkie se lippe kom. En hy glimlag soos ’n man wat baie ingenome met homself is.

Teen die tradisie in sien dié bruidspaar mekaar al voor die troue, want hier word vandag baie spesiale troufoto’s saam met die olifante geneem.

Twee uur later trou hulle wel ewe tradi-sioneel in die NG Moedergemeente op Oudtshoorn, waar nuuskieriges buite opgewonde saamdrom om die gewilde sanger en sy bruid te sien te kry.

Binne-in die kerk wag Jakkie se pa, ds. Nico Louw, om sy jongste kind te trou, nes hy ook met sy ander vyf kinders gemaak het. Hy preek uit Hooglied en gee later vir sy bewoë seun ’n sakdoek aan.

‘‘Julle behoort aan mekaar vir altyd. Julle is vir God ’n verrassing – soos ’n nuwe blom wat voor hom ontvou,” sê hy.

Dan steek Jakkie (31) ’n ring met ’n enkele knewel van ’n diamant aan Anél (27) se vinger.

Die troupand, ’n verrassing vir sy bruid, is van witgoud met diamantjies reg rondom. Ook sy verras hom met ’n goue trouring waarop sy die titel van Romanz se lied My Hele Hart laat graveer het. Dis die lied wat Jakkie altyd soggens vir haar sing.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot, 14 April 2011.