Hy is een van Danie Opperman, die toekomstige bruidegom en broerskind van die sanger Dozi, se vriende. Danie gaan 2 Mei trou. Die sanger Jannie Moolman is op 6 April tydens die rampartytjie in Hartebeespoort beseer toe hy vermoedelik van die restaurant Mango’s se dak val. Hy het beserings aan sy gesig en hand opgedoen.

'Dit pla my dat inligting wat gepubliseer word wat nie waar is nie.'

“Ek gaan een van die vier strooijonkers by die troue wees en dit pla my dat inligting gepubliseer word wat nie waar is nie. Dit laat Jannie, en die res van ons ouens wat by die ramparty was, sleg lyk. Ons het lekker gekuier, maar dit was verseker nie een van die rofste rampartytjies waar ek al ooit was nie. Jannie was ook nie uitermate dronk nie,” vertel hy.

Volgens die bron het hulle ’n klomp pizzas gekoop en het toe die middag eenuur op ’n boot op die dam gaan kuier.

Teen vieruur is hulle na die Upper Deck-restaurant en daarna omstreeks seweuur die aand na Bundu Coyote Bar, waar hulle weer skyfies, burgers en ’n paar ander peuselhappies geëet het.

“Bundu was glad nie so vol soos wat daar geskryf is nie. Toe ons daar opdaag, was daar twee ander mense. Jannie het nooit sy broek daar oopgemaak soos beweer word nie. Een van die kliënte daar het wel vir hom gevra om op die tafel te staan en ’n opera-liedjie te sing. Die eienaars wou later die plek sluit en het gevra of ons kan gaan. Ons het onmiddellik almal bymekaargekry en so gemaak. Sonder ’n struweling.” Hulle is toe met die partytjiebus na Mango’s. Jannie is saam. Party van ons het bo in die restaurant gekuier en ander by die bus.

'Van ons het ons hemp uitgetrek om hom warm te hou en gevra vir komberse.'

In ’n stadium het die karwag ons kom roep om te sê daar lê iemand wat beseer is. “Ons het soontoe gegaan en gesien dis Jannie. Van ons het ons hemp uitgetrek om hom warm te hou en gevra vir komberse. Ons het oom Piet, die eienaar, laat roep en toe is die nooddienste ontbied.”

Volgens die gas het nie een van hulle ’n blompot voor die venster gesien waardeur Jannie na bewering geklim het en die pot “gebreek” het nie.

“Ek wil hierdie goed sê, want dit pla my dat almal verskillende stories skryf wat nie waar is nie.”

Hy het ook die vier ouens opgemerk by Mango’s wat na bewering moeilikheid gemaak het en bakleierig was. “Hulle het veral opmerkings gemaak, maar ek het nooit gesien dat hulle met Jannie gepraat het of hy by hulle was nie.”

Hy weet nie presies hoe dit nou met Jannie gaan nie.

Luidens ’n verklaring wat gister deur Jannie se woordvoerder, Barnard Beukman, uitgereik is, sal Jannie vandeesweek geleidelik uit sy geïnduseerde koma ontwaak word, en is besig om goed te herstel.

Hulle wou geen kommentaar lewer op die anonieme gas se bewerings nie.