Dries Cornelius, haar oom, het vroeër gesê Hannah se 18-jarige broer sukkel om te begryp wat gebeur het omdat hy outisties is. Hy vra gedurig waar sy sussie is.

Die familie het ’n spesiale boodskap eksklusief aan Huisgenoot gegee.

“Iets wat ons familie hierdie week geleer het, is dat ’n mens jou ware vriende in moeilike tye leer ken.

Deur die tragiese dood van ons geliefde Hannah het ons besef hoeveel vriende ons regoor die wêreld het. Ons het ware menslike goedheid, liefde en medelye ervaar, ook van vreemdelinge.

In hierdie tyd kies ons om positief te wees.

Ons wil Hannah onthou vir al die mooi kwaliteite wat sy gehad het: goedheid, liefde, lig, nederigheid, sagtheid, intellek en kreatiwiteit.

Ons hoop dit sal haar nalatenskap wees. Ons hou vas aan die vreugde wat sy in almal se lewe gebring het.

Dié wat haar geken het, sal saamstem.

Die absolute liefde wat ons familie van regoor die wêreld ontvang het in hierdie moeilike tyd, bewys ook hoe ’n wonderlike mens Hannah was.

Ons sal altyd dankbaar wees vir die steun en goedhartigheid van mense.

Dit is iets wat niemand van ons kan wegneem nie.”

Die gru-moord op die pragtige Maties-student het mense landwyd geruk.

Lali van Zuydam, Hannah se niggie, sê hoewel die familie nog nie heeltemal seker is wat presies op die oggend van Hannah se ontvoering en moord gebeur het nie, kies hulle nou om op die positiewe te fokus en mekaar as familie te steun.

Wat gebeur het

Hannah, die enigste dogter van die hooflanddros op Simonstad, Willem Cornelius, en haar prokureur-ma Anna, se liggaam is op Saterdagoggend 27 Mei by Knorhoek naby Stellenbosch gevind.

Sy het verskeie steekwonde gehad en is om die beurt verkrag.

Hannah en haar vriend, Cheslin Marsh, was Saterdagoggend omstreeks drieuur op Stellenbosch oorval in die wit-en-blou Volkswagen Golf waarin hulle gesit het.

Cheslin het daarin geslaag om te ontsnap. Hy het ook verskeie beserings opgedoen.

Geraldo Parsons (26) en Vernon Witbooi (32) het op 30 Mei vlugtig in die landdroshof op Stellenbosch verskyn op aanklagte van moord, poging tot moord, verkragting en diefstal.

Twee ander mans, Nashwill Julies (28) en Eben van Niekerk, is intussen in hegtenis geneem vir dieselfde klagtes.

Hannah het B.A.-geesteswetenskappe studeer en was ’n tweedejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch.