Elvis Blue is steeds oorbluf oor die reuse-Ghoema-oes wat hy Maandag op die jaarlikse prysaand gekry het. Met ses pryse en sewe benoemings was Elvis loshande die groot wenner van die aand.

“En op pad soontoe het ek nog vir my vrou, Charize, gesê ek hoop ek wen minstens een,” vertel hy die volgende oggend laggend aan Huisgenoot.

“Ek het gedink dit sou darem baie sleg wees om vir sewe benoem te word en niks te wen nie!”

Lees ook: Andriëtte, Elvis Blue, Karen Zoid en Francois van Coke van vanjaar se groot Ghoema-wenners En kyk nou net. Elvis het die aand se toppryse gewen, insluitend beste manlike kunstenaar van die jaar, beste liedjieskrywer en beste kontemporêre album deur ’n manlike kunstenaar, vir Êrens in die Middel van Nêrens.

Die Ghoemas is die enigste onafhanklike musiekpryse vir Afrikaanse musiek waar die beste in die bedryf jaarliks vereer word in meer as 20 kategorieë nadat die publiek vir hul gunstelinge gestem het.

A photo posted by RYAN KRUGER (@ryankrugerthing) on

Van die aand se ander groot wenners sluit in Andriëtte met haar twee beeldjies vir onderskeidelik beste kontemporêre album deur ’n vroulike kunstenaar en beste vroulike kunstenaar, sowel as die duo Karen Zoid en Francois van Coke wat vier pryse gewen het.

Dit was hoeka Karen en Francois wat Elvis uitgestof het in die een kategorie waarin hy benoem is, maar nie gewen het nie. Hul supergewilde duet Toe Vind Ek Jou het Elvis se Die Hemel uitgestof.

Tog, vertel Elvis, het hy en sy vrou alte lekker gegiggel ná die geleentheid oor al die pryse wat hy ontvang het. “Die rit terug huis toe was beslis anders as soontoe!” Maar watter een van sy pryse was vir hom die grootste verrassing? “Beslis die prys vir beste ‘live’ DVD vir my en Laurika Rauch se Hart en See,” sê hy sonder aarseling. Hy meen die mededinging in daardie kategorie was veral sterk.

A photo posted by Michelle Voges (@michellevoges) on

Hart en See is ’n opname van Elvis en Laurika se gelyknamige vertoning waarmee hulle al die afgelope twee jaar besig is. Huisgenoot was ’n hoofborg van die DVD.

“Ek en Laurika het die vertoning die eerste keer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gedoen en gelukkig was Huisgenoot op die dag daar,” onthou Elvis. “Hulle was van die begin af opgewonde om daarby betrokke te raak en ek en Laurika is baie dankbaar.

“Sonder hulle sou ons dit dalk nooit kon doen nie.”

Kyk: So het die sterre by die Ghoema-prysaand geglinster

En nou is Elvis die trotse eienaar van ses Ghoema-beeldjies. Wat beplan hy om daarmee te doen? “My dogtertjie, Lila, is nou ses jaar oud en enigiets wat naastenby soos ’n trofee lyk gee haar die grootste opgewondenheid. Ek neem al die beeldjies huis toe om vir haar te wys.”

’n Nuwe album volg ook later vanjaar. “En ek skryf eintlik al reeds aan die een daarna,” verklap hy.

Kom inspirasie dus maklik vir hom?

“Inspirasie vir nuwe musiek is altyd ’n groot geskenk. Ek tref altyd die vergelyking: Liedjies skryf is soos om ’n paar mooi skoene in ’n donker kamer te gaan soek: Jy strompel vir ’n ruk rond en is maar net te gelukkig om die pragtige skoene te vind.

“Die ouens wat die beste liedjies skryf, is die ouens wat die hardste soek.”

Ander stories op Huisgenoot.com:

Kurator van Huisgenoot-uitstalling met Kanna vereer in ons 100ste bestaansjaar

Kyk: Groot opwinding in dié geliefde Pasella-aanbieder se huishouding

Hierdie wakkerweeswenke kan keer dat JY gekaap word

Kyk: Ouma Trys se histeriese kennismaking met Face Swap

Kyk: Bobby van Jaarsveld ontdek Face Swap en die resultaat is skreeusnaaks!

Raak lag-lag ontslae van jou plooie met dié gin!