As ‘n meisie vir die heel eerste keer in ’n fliek speel en die man teenoor haar in die hoofrol is die liefde in haar lewe – nou ja, dan skep dit mos net daardie tikkie ekstra.

En aanhangers van die sangers Elizma Theron en Theuns Jordaan kan maar weet: Die nuwe Afrikaanse fliek Jakhalsdans hét daardie ietsie ekstra.

Die derduisende aanhangers van twee van die land se gewildste sangers wag al lank om te hoor of almal se vermoedens toe rêrig waar was en nou het Elizma self die sluier gelig. Net so ’n rapsie, maar tog.

“Ons is saam en ons is gelukkig, maar dis privaat,” sê sy met ’n skaam laggie. Sy erken wel die vonke tussen hulle het gesorg vir iets heel spesiaals voor die kameras. “Dis belangrik dat daar ’n vlam tussen die hoofkarakters in ’n fliek moet wees, en dit help as daar ook ’n vonk tussen die akteurs is,” sê sy.

Sy en Theuns het hul woorde saam geoefen vir die fliek wat pas sy première op Loxton gehad het en hy het toe geen raad nodig gehad oor hoe om te speel nie, vertel sy bewonderend. “Ek het voor die tyd geweet hy gaan goed wees, maar hy was regtig baie goed!”

“Ek was ook nie senuweeagtig om voor hom toneel te speel nie. Ons vertrou mekaar. Dit was spesiaal om teenoor Theuns te speel. Nie eens Hollywood-akteurs kry altyd die kans om teenoor hul ou of meisie of hul man of vrou te speel nie.”

Self Hollywood kon nie ’n meer romantiese liefdesverhaal as dié van Theuns en Elizma opgetower het nie: ’n Jong aspirant-sangeres ontmoet een van die grootste sterre in die plaaslike musiekwêreld, en daar is onmiddellik vonke tussen die vrou met die lang, blonde hare en heldergroen oë en die man met die breë skouers en diep, gevoelvolle stem.

Maar die twee slaan verskillende rigtings in en amper vyf jaar gaan verby. In dié tyd word sy self ’n ster en haar albums vlieg van die rakke. Intussen verklap hy in Huisgenoot hy is op soek na liefde, hy soek ’n plain Jane met wie hy sy lewe kan deel..

Kort daarna – middel verlede jaar, om die waarheid te sê – loop die twee mekaar weer raak. Die elektrisiteit tussen hulle is tasbaar toe hulle mekaar by die Eden-sanger Jay du Plessis se troue sien, en almal wat hulle by die Huisgenoot Tempo-toekenningsaand in mekaar se arms oor die dansbaan sien gly, weet: “Hier kom ’n ding...”

Teen die tyd dat Skouspel aanbreek, is die koeël deur die kerk. Hulle het net oë vir mekaar, fluister koerwoordjies in mekaar se ore en hou in die donker agter die verhoog hand-jies vas.

En boonop is daar toe ’n kersie op die koek: Die twee het die hoofrolle teenoor mekaar losgeslaan in die fliek gegrond op die gewilde skrywer Deon Meyer se teks.

Elizma se oë blink terwyl sy vertel hoe sy die verfilming geniet het.

Van haar vorige album, Gee My Meer, is reeds 60 000 eksemplare verkoop en sy en Nicholis Louw het in 2009 twee Sama-toekennings gewen vir die gewildste selfoon-luitoon in die land met hul trefferliedjie Kom Ons Vat ’n Kans. Van Elizma se nuwe album, Ek Soek Jou, is ook reeds 30 000 eksemplare verkoop.

Sy vertolk ook al die afgelope jaar die rol van Kriek in die kykNET-sepie Villa Rosa.

Lees die volledige artikel in die 11 Maart-uitgawe van Huisgenoot, om meer oor hierdie romanse uit te vind.