[caption id="attachment_56941" align="alignnone" width="600"]Foto: DINO CODEVILLA Foto: DINO CODEVILLA[/caption]

Hy en sy kollegas berei hulle nou voor vir wat moontlik die “finale stryd” kan wees in die geveg om die staatsbeursie, staatskaping en ongerymdhede op die hoogste vlak van regering.

So sê onberispelike bronne met direkte toegang tot Gordhan se binnekring by tesourie se hoofkantoor in die 40 Kerkplein-gebou in Pretoria.

Hulle sê voorts:

? Die nuutste aanslag het ten doel om diegene wat deur Gordhan ontbloot kan word uit die tronk te hou en nie net bloot om toegang tot die staatsbeursie te verseker nie;

? Die politieke omgewing word tans voorberei vir ’n kabinetskommeling waarin Gordhan uitgeskuif kan word, hoewel daar vrese vir die effek op die ekonomie is;

? Adj.pres. Cyril Ramaphosa skaar hom aktief by Gordhan, hoewel dit onduidelik is wat sy strategie is.

Dit volg op die onthulling deur die webtuiste Daily Maverick Dinsdagmiddag dat Gordhan, asook vier voormalige kollegas by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), deur die Valke beveel is om hulle Donderdag om 10:00 by dié elite-ondersoekeenheid se hoofkantoor in Silverton, Pretoria, aan te meld.

Ivan Pillay, Johann van Loggerenberg, Adrian Lackay en Andries “Skollie” van Rensburg was almal saam met Gordhan by die SAID werksaam toe ’n spesiale ondersoekeenheid op die been gebring is om onwettige ekonomiese bedrywighede te bekamp. Dié eenheid word nou van allerlei ongerymdhede beskuldig, hoewel daar nog geen tasbare bewyse daarvoor voorgehou is nie.

Daily Maverick berig Gordhan en sy voormalige kollegas – wat die SAID se diens almal op omstrede wyse onder die nuwe kommissaris, Tom Moyane, verlaat het – is meegedeel hulle gaan in verband met die SAID-eenheid aangekla word. Hulle sal Donderdag besonderhede van die klagte ontvang.

Die rand het laat Dinsdagmiddag veld teenoor die dollar verloor toe die nuwe aanslag op Gordhan bekend geword het, maar het later effe herstel.

Die nuutste wending volg op maande se stilte na Gordhan reeds vroeër vanjaar ’n aanslag van die Valke afgeweer het en die publiek in ’n ongekende verklaring om hulp en steun gevra het. Gordhan is in Desember as minister van finansies aangestel ná die rampspoedige besluit van pres. Jacob Zuma om Nhlanhla Nene as finansminister met Des van Rooyen, ’n onbekende ANC-LP, te vervang. Van Rooyen is ná drie dae deur Gordhan vervang – dit nadat die miljarde rande op die effektebeurs uitgewis is.

Volgens ’n ingeligte, met eerstehandse kennis van Gordhan en tesourie se strategie, was daar in die aanloop tot die munispale verkiesing ’n nie-amptelike skietstaking. Dit het egter nou verval.

“Die ‘hands-off Gordhan’-veldtog het goed gewerk en Gordhan-ondersteuners het byvoorbeeld in Gauteng gereageer deur Zuma se apologie oor Nkandla te aanvaar. Die verkiesing was egter ’n duidelike wekroep vir Zuma en sy meelopers dat hulle besig is om hul greep op mag te verloor. Hierdie aanslag op Gordhan is ’n terugvegpoging om hul gesag te laat geld,” het die ingeligte gesê.

Zuma is in ’n swakker posisie as voor die verkiesings, maar het steeds invloed op en beheer oor staatsinstellings. Volgens die ingeligte verwag Gordhan dat alle staatshefbome tot Zuma se beskikking teen hom gebruik sal word.

“Die risiko vir Suid-Afrika en Gordhan is groter as die vorige aanslag in Mei. Dit is omdat tesourie korrupsie en omkopery van amperse industriële omvang ontbloot het. Dit wat op die spel is, is dus soveel groter. Dit gaan hier oor onwettighede, nie blote politieke invloed nie. Dis ’n stryd om oorlewing.”

’n Ander bron, met toegang tot die hoogste vlakke van die uitvoerende gesag, sê Gordhan loop volgens gesprekke in regeringskringe die gevaar om deur Zuma van sy pligte onthef te word. Volgens die bron is dit bekend dat Gordhan oor kennis beskik wat ’n wesenlike bedreiging vir Zuma se politieke toekoms inhou.

** Hou Huisgenoot.com dop vir die nuutste verwikkelinge.

** Pieter du Toit is assistentredakteur van Huisgenoot.