Met die wanopvattings, vooroordele en Van Der Merwe, wat gespeel word deur Rob Van Vuuren, se kenmerkende onvermoë om suksesvol te wees, gaan menigte kykers kraai van die lag.

Sy beeldskone dogter, en statige aanstaande Britse skoonseun sal jou amper laat glo dat sy geluk besig is om te draai, maar, helaas, Van Der Merwe suig steeds aan die agterste speen.

Van Vuuren sê dit was ’n onvergeetlike ervaring was om die ikoniese karakter van Van Der Merwe te vertolk.

"Ek dink mense gaan lekker lag om te sien hoe Van Der Merwe lewe kry op die grootskerm en ek hoop hulle kan hulself in sekere situasies vereenselwig met die karakter. Ek het dit baie geniet om Van Der Merwe te speel en ek hoop die kykers geniet dit ook," vertel Rob.

’n Hele string bekende name soos Ian Roberts, Chanelle de Jager, Reine Swart, Adrienne Pearce, André Jacobs, Rika Sennett, Erica Wessels, Louw Venter, Benedikt Sebastian, Matthew Baldwin, Neels van Jaarsveld en Melt Sieberhagen om maar net ’n paar te noem is ook deel van die rolverdeling.

Kurt Darren maak ook ’n gasvertoning en Barry Hilton speel die rol van Freddie, die kroegman en Van Der Merwe se beste vriend.

Dié rolprent, wat deur Ster-Kinekor Entertainment versprei word, sal landswyd vrygestel word op 28 Julie 2017.