Die sepie Suidooster se Desiré Gardner, wat Maandag die lewe aan ’n dogtertjie, Robin, geskenk het, het met ons gesels oor hoe dit voel om weer ma te word.

Wat het jy die meeste die afgelope paar maande oor jouself tydens jou tweede swangerskap geleer?

Ek het geleer ’n mens kan eintlik swaar dinge optel as jy swanger is . . . veral as jy ’n huilende vierjarige haastig uit ’n winkeltrollie moet kry. Ha-ha! Ek het ook geleer hoe ongelooflik ’n mens se liggaam is en hoe wonderlik dit is om swanger te wees. Met James elke dag by my besef ek watter voorreg dit is om ’n ma te wees, en ek sien so uit daarna om nog ’n nuwe mens by die Here te leen vir ’n tydjie.

Wat was vir jou die lekkerste aan weer swanger wees?

Ek hoef net my vingers te klap en die woord “craving” te uiter, dan gaan koop Chris vir my enige chocolate of sweet van my keuse. Dis lekker om haar te voel skop; om die opwinding te voel van ’n nuwe klein mensie ontmoet. Omdat dit hierdie keer so ’n verrassing was, voel elke oomblik saam met haar soos ’n present. Dis ook waarskynlik ons laaste kleintjie (tensy die Here ander planne vir ons het), so ek het dit geniet om dinge vir die laaste keer te ervaar.

Wie gaan die maklikste in die nag opstaan vir Robin – jy of Chris?

Ha-ha, seker maar ek! ’n Ma is mos eintlik heeltyd wakker. ’n Pa moet wakker gemaaaak word. Maar Chris is wonderlik met pajamadril; hy weet hy moenie ’n moeë vrou kwaad maak nie . . . en nou gaan daar twee girls wees wat hy moet happy hou.

Is dit vir jou lekker dat jy jou kinders nou in die Kaap kan grootmaak?

Dis ’n absolute plesier. Ons woon naby ’n plaas waar ons kan gaan stap as ons wil. Om met James en ons hondekinders net die plaaspad te vat is ’n droom wat vir my en Chris waar geword het. Johannesburg en sy mense sal altyd diep in my hart woon, maar ek is so bly ons kan ’n hoofstuk van ons lewens hier in die Kaap bly. Dis werklik ’n seën.

Desire use

Hoe voel jy wanneer jy na Robin kyk?

Ek voel ’n oordosis liefde, saam met ’n titseltjie onwerklikheid. Sy’s pragtig en so klein. Ek wil haar net beskerm en oppas!