DIT was sy afskeidskonferensie, die laaste keer dat hy met die media sou gesels as Bafana Bafana se breier, en die oomblik was so bittersoet soos die wedstryd wat sy span toe pas gespeel het: Suid-Afrika se wen-stryd teen Frankryk, maar ook sy laaste in die Wêreldbekertoernooi.

Net voor die einde draai Carlos Alberto Parreiratoe na die Brasiliaanse TV-kamera en blaas ’n soentjie. “Terloops, Letitia, ’n soentjie vir jou,” het hy gesê.

Letitia is Carlos se vyfjarige kleindogter en sy oogappel – maar in Brasilië was vroulief Leila erg omgekrap omdat hy dié meisiekind dan so uitsonder. “Sy was siedend toe ek later met haar praat,” erken hy met ’n droë laggie. “‘Wat van die ander kinders?’, wou sy weet.”

Maar die 67-jarige aftigter kan dit nie help nie – natuurlik is hy lief vir Lukas (3), Rafael (3) en Isabella, sy Wêreldbeker-kleinkind wat op 3 Julie gebore is – maar die teerste plekke in sy hart behoort aan Letitia.

“Sy is my hart se punt,” sê hy onboetvaardig. “Sy het my betower.”

Die man wat Bafana Bafana slaggereed moes kry vir die Wêrelbeker, keer binnekort huiswaarts na Letitia en die ander geliefdes daar. Hy sal op die strand kan stap in Rio de Janeiro waar hy ’n huis het, en weer op sy plaas kan wees in Angra aan die Brasiliaanse kus.

En ja, natuurlik kan hy nie wag nie. “Dit sal wonderlik wees om tyd te hê sonder dat daar eise aan my gestel word,” sê hy. Maar sy vertrek sal ook met ’n bietjie hartseer gepaard gaan. Iets anders het ook sy hart gesteel: Suid-Afrika. En hy sal ’n stukkie van sy hart hier agterlaat wanneer hy na Rio teruggaan.

Lees die volledige onderhoud in die Huisgenoot van 22 Julie 2010