Net 24 uur voor Ben Dorfling (42) sy vervreemde vrou, Leonora (36), haar broer, Marthinus le Roux (39) en toe homself geskiet het, het Marthinus in ’n WhatsApp-gesprek aan ’n vriend bely hoe hy vir sy en sy suster se lewe vrees.

[caption id="attachment_164610" align="alignnone" width="600"]Van links: Marthinus le Roux, Leonora Le Roux Dorfling en Benjamin Dorfling. Foto's: Facebook Van links: Marthinus le Roux, Leonora Le Roux Dorfling en Benjamin Dorfling. Foto's: Facebook[/caption]

Daniel Dekker van Kaapstad het die aand voor die tragedie met “Seun”, soos Marthinus onder sy vriende bekend staan, gesels. Min het Daniel geweet Marthinus se vrese oor Ben was geregverdig – en dat dit die laaste keer sou wees dat hulle met mekaar gesels.

Die voorval het Saterdag op Leonora se kleinhoewe in Polokwane gebeur.

“Leonora was bang vir Ben. Sy het hom in alle sosiale media en op WhatsApp geblokkeer,” vertel Daniel oor die foon. “Marthinus het my baiekeer vertel hoe Ben hom begin teister het om hom te vertel wat Leonora se bewegings is.”

In skermgrepe wat Daniel aan Huisgenoot gestuur het, skryf Marthinus hoe Ben gedreig het om Leonora en haar kinders te skiet as sy ’n ander man sou kry. Hy vertel vir Daniel dat hy kwaad is.

whatsapps

“My suster se man, Ben, kom dreig hier om haar te skiet. Ek (het) hom mooi laat verstaan hy moet hier wegbly,” skryf Marthinus.

Daniel raai dan vir Marthinus aan om die polisie in kennis te stel.

“My sus is bang. As ek gaan werk, kan hy haar net seermaak. Ons het ’n interdik teen hom gekry . . . Hy sê hy sal die polisie ook vrek skiet.”

In die laaste boodskap vertel Marthinus verder hoe Ben hulle gedreig het. “Ben het gesê hy sal haar en die kinders vermoor as sy ’n ander man vat.”

Daniel sluit die boodskap af deur vir Marthinus te sê hy moet Kaap toe trek.

Volgens Netwerk24 was daar ’n rusie tussen die drie voordat Ben hulle geskiet het. Presies waaroor dit gaan, weet Daniel nie.

Daniel sê die Le Roux-familie is in rou gedompel.

“Marthinus en Leonora se pa vat dit baie swaar. Hy is verskriklik kwaad en hartseer oor alles wat gebeur het. Ek is ook bitter hartseer. My hande is afgekap. Ek sit hier onder in die Kaap en kan niks doen nie.”

Marthinus laat drie kinders uit verskillende huwelike agter, en Leonora ’n dogter en ’n seun.