SY het al jare gelede, toe hulle nog skoolklere gedra het, vir hom gesê hulle gaan eendag trou.

In daardie dae het Annatjie Rheeders elke dag met tweede pouse gaan loer of sy Bobby van Jaarsveld se skooltas buite die klaskamer sien staan. As dit weg was, het sy geweet haar kêrel en sy pelle het weer die pad gevat om iewers kattekwaad te gaan aanvang.

Bobby het uiteindelik soveel dae van sy matriekjaar aan die Hoërskool Brits misgeloop dat die skoolhoof hom verbied het om na die matriefaskeid te gaan, en Annatjie moes toe maar noodgedwonge iemand anders saamnooi.

Maar sy het haarself getroos met die gedagte dat sy eendag tog wel die mooiste dag van haar lewe met Bobby sou deel. En sy was reg, want die blonde sanger van treffers soos Spieëltjie en Net Vir Jou het haar nou pas ná sewe jaar van ’n aan-af-verhouding gevra om sy vrou te word.

Die twee trou in Januarie en wil sommer gou met ’n gesin begin. “Ek wil 10 kinders hê!” sê Bobby kort ná hul verlowing. Annatjie lag uitbundig. “Ons sal maar ’n toerbussie moet koop sodat die hele gesin kan inpas . . .”

Hulle is albei nou 23, en  dit voel maar soos nou die dag dat die liefde in die Engels-klas ontwikkel het. “Die juffrou wou nie hê ons moes langs mekaar sit nie; sy’t ons uit mekaar geskuif,” vertel Annatjie.

Sy was destyds soeter as Bobby, sê sy – hy’t sommer 62 dae van hul matriekjaar gemis. Die sanger het toe al gesing en was dikwels vas met optredes, maar hy het ewe gereeld ook net vir die lekkerte uit die klas gebly.

“Ek het soms saamgegaan wanneer hy weggeglip het, maar ek het darem net nege dae van die skooljaar gemis!’’ vertel Annatjie. “Ons het eenmaal dieretuin toe gegaan en toe herken ’n tannie Bobby en bel die skoolhoof!’’

Die twee lag lekker oor die herinnering. “Ek en Annatjie lag so baie dat dit soms vir my voel asof ons eerder beste vriende as ’n paartjie is,” sê die sanger.

Maar dis ook hoekom Annatjie al destyds geweet het sy gaan met Bobby trou. “Ek het nog altyd geglo ’n mens moet met jou beste vriend trou. Ons het nog altyd ’n mooi verhouding gehad, ons is lief vir mekaar en lag so baie wanneer ons saam is. Ons het in ons sewe jaar saam nog net twee keer baklei.”

Hulle het wel in dié tyd al hoeveel keer uitgemaak. “Dit was nooit omdat ons baklei het nie, eerder omdat ons ’n bietjie spasie nodig gehad het,’’ verduidelik Annatjie.

“Dit was meestal ek wat uitgemaak het,” erken Bobby. “Ek is altyd op soek na antwoorde, en ek het gewag vir ’n teken van die Here dat Annatjie die vrou is met wie ek moet trou. Ek het gedink ek sal eers dan weet of ons met die verhouding moet voortgaan.’’

Hy glimlag breed. “Maar ek besef nou ek moenie wag vir ’n teken nie, die Here wil hê ek moet self besluit. Dis my keuse.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 9 September 2010

Op die internet:

http://www.bobbyvanjaarsveld.co.za/