Dis oor ’n video wat die sanger Willem Botha van kykNET se Sterlopers-faam spesiaal vir haar pleegdogter gemaak het.

Die afgelope 23 jaar is Leonie de Vries onder Maggie en haar man, Mechiel, se vlerk.

“Kindermishandeling vroeg in haar lewe het daartoe gelei dat Leonie nooit kon loop nie,” sê Maggie. Sy het ook probleme met breinfunksie, maar met haar hart en siel is niks verkeerd nie.

“Sy is ’n opregte, weergebore jong vrou en glimlag altyd,” sê Maggie. Op die agtergrond gesels Leonie opgewonde saam. Sy vertel sy was al by twee van Willem se konserte en het hom al in die Tygervallei-winkelsentrum by Bellville, Kaapstad, raakgeloop.

Hy groet haar altyd so mooi. “En hy het ’n drukkie gegee,” laat Leonie van haar hoor. Sy koester ’n foto van hom saam met ’n perd teen haar slaapkamermuur.

“Ek het jou brief ontvang en eerstens wil ek net baie, baie dankie sê vir jou mooi woorde wat jy geskryf het,” sê Willem in die video. “Ek kan nie vir jou beskryf hoeveel dit vir my beteken nie.

Want as dit nie vir mense soos jy was nie, sou ek nie kon doen waarvoor ek lief is nie.” Hy beloof daar is ’n CD van sy splinternuwe album, Soen & Vergeet, in die pos.

Hy het die video opgeneem in die ateljee waar sy TV-program chatNOU vir kykNET verfilm word. Hy neem haar op ’n blitstoer agter die skerms van die twee uur lange regstreekse uitsending met aanbieders en kykers wat direk en interaktief met mekaar gesels.

Sy video volg ná ’n briefie wat sy aan Huisgenoot geskryf het:

“Liewe huisgenoot my naam is Leonie ek wil graag vir julle vra wie werk met reik na n droom my ma en pa is oud ek is verlam in my bene so ek kan nie loop nie ek is lief vir misiek my wereld is maar klyn ek kom nie by feeste nie ek het alles wat ek nodig het maar iets is leeg die Here is hier maar ek het twee wense ek wil baie graag vir willem bota en brendon pyper sien maar my omstandighede laat dit nie toe nie dit kos net n hart ek se vir julle twee manne groete hoop om van julle te hoor julle weet nie wat dit vir my sal beteken nie mag die Here julle seen ek is 27 jaar oud.”

Sommige dae is sy soos ’n agtjarige meisietjie, vertel Maggie. Dan is sy net lief vir haar teddiebere of die honde en hoenders op die werf. Sy hou ook daarvan om in die swaaistoel te sit en lekker vuur te maak saam met pappa Mechiel. “Sy is ons liewe kind,” vertel Maggie (72).

Leonie het ’n identiese tweelingsussie, Marlise, wat op vier saam met Leonie by die Lucas-egpaar in pleegsorg beland het.

“Marlise het die mooiste maniere. En sy vaar goed in haar studie oorsee,” sê Maggie. Sy het in 2008 gematrikuleer aan die Augsburg-landbouskool op Clanwilliam. Maggie se afgetrede suster, dr. Margriet Theron (75), het die slimkop Marlise genooi om in Rotorua, Nieu-Seeland, te kom woon en in daardie land te studeer.

“Sy wou haar help geleenthede gee,” sê Maggie. Marlise het ’n graad in rekenaarwetenskappe verwerf en gaan nou studeer om ’n verpleegster te word.

Intussen word haar suster, Leonie, se drome ook waar. Vir haar is dit net sulke groot drome soos haar suster s’n.

Sy het nog nie die sanger Brendan Peyper persoonlik ontmoet nie. “Sy het onlangs ’n DVD van hom gesien,” vertel Maggie.

“Waar het jy dit gekry, liefling?” vra sy en jy hoor op die agtergrond: dis die Krone-konsert se DVD wat sy in Lambertsbaai se Spar gekoop het.

Moontlik wag daar van Brendan se kant ook nog ’n verrassing.