Behati Prinsloo se ouers, Boet en Magda, tel behoorlik die dae af tot hul supermodel-dogter se troue. Die paartjie vlieg vandag uit Namibië na New York om daar vir Behati (25) te gaan kuier voor sy en Adam Levine (35), die voorsanger van die Amerikaanse pop-rockgroep Maroon 5, op 19 Julie in Mexiko afhaak.

“Ons gaan eers New York toe en sal haar daar sien,” het Boet uit Namibië vertel voor hul vertrek. “Sy woon in New York, maar sy het vir ons plek bespreek in ’n hotel naby Union Square (in Manhattan).”

Luidens berigte gaan Behati en Adam by die Hotel El Ganzo in Los Cabos afhaak. Die troue gaan glo oor ’n hele naweek strek. “Behati is baie opgewonde oor die troue en ons het weekliks kontak,” vertel Boet.

Dit gaan Boet en sy vrou se eerste besoek aan Mexiko wees. Hul familie en vriende gaan ook die troue bywoon. Boet, ’n predikant, gaan ook dele van die huwelikseremonie behartig. “Adam se pa is van Joodse afkoms en ons aanbeveling was dat van die Joodse tradisies gevolg gaan word,” vertel hy.

Dit gaan ’n intieme geleentheid wees, bevestig hy. Behati se vriendin die Suid-Afrikaanse supermodel Candice Swanepoel (25) is ’n strooimeisie, bevestig hy.

En kom die paartjie hul wittebrood in Namibië vier? “Ek weet nie,” sê Boet.

Hy is duidelik baie ingenome met sy toekomstige skoonseun. Die Payphone-sanger en beoordelaar op die Amerikaanse werklikheidsangreeks The Voice het vroeër in ’n onderhoud gesê hy was lekker senuagtig toe hy Boet se toestemming vra om met sy dogter te trou. Maar Boet en Magda is duidelik dol oor hom. “Ons het hom en sy familie ontmoet en ons is baie beïndruk. Hulle is normale, liefdevolle mense,” sê Boet. Ons kan nie wag om die twee se troufoto’s te sien nie!

- Lara Atson