[caption id="attachment_141973" align="alignnone" width="600"]Piet Byleveld en sy vrou. Foto: ER Lombard Piet Byleveld en sy vrou, Elize. Foto: ER Lombard[/caption]

Piet Byleveld (66) waak glo by sy vrou, Elize (57), se hospitaalbed nadat sy weens ’n onbekende siekte opgeneem is.

’n Sekerheidswag by die luukse landgoed waar die Bylevelds in Ruimsig in Roodepoort aan die Wes-Rand woon, het Woensdag vertel Piet is nie by die huis nie: hy is by sy vrou in die hospitaal, maar hulle weet nie wat haar makeer nie.

Huisgenoot het Piet Vrydag die eerste keer gekontak nadat ’n Maroela Media-berig aanlyn verskyn het. Daarin voer drie geliefdes van moordslagoffers aan hulle is ongelukkig met die dienste wat Piet as privaat speurder aan hulle gelewer het. Hulle beweer daar het dadels gekom van die duisende rande wat hulle Piet betaal het.

Huisgenoot het telefonies ’n onderhoud gevoer met Chenelle Herbst (26) van Boksburg, Henriette Stopforth (22) van Ellisras en Claudio Veljkovic (21) van Secunda. Almal beweer Piet het geen vordering gemaak met hul onderskeie ondersoeke nie en alles was net leë beloftes.

Piet het Vrydag aan Huisgenoot gesê: “Ek het niks om weg te steek nie. Ek kruip nie weg nie.”

Maroela Media kon Piet glo weke lank nie opspoor om hom met die klaers se bewerings te konfronteer nie. Huisgenoot het die bewerings ook skriftelik aan Piet gestuur en hom die geleentheid gegun om te reageer.

Toe Huisgenoot hom bel, het Piet gesê Elize is nie gesond nie en die dokters is nog besig met toetse. Hy sou Saterdag saam met haar teruggaan na die hospitaal in Pretoria. Hy het nie die naam van die hospitaal gegee nie.

Hy het gesê hy was nie bewus van die berig en die bewerings teen hom nie. Huisgenoot het hom tyd gegun om hom eers met die besonderhede te vergewis, maar daarna het hy nie weer op telefoonoproepe of boodskappe gereageer nie.