André Schwartz se nuwe musiekvide, Ek Kom Huis Toe.

Die eerste musiekvideo, Ek Kom Huis Toe, het omtrent die bekendes ingeryg. Kurt Darren, Altus Theart, Steve Hofmeyr, Jakkie Louw, Rina Hugo en Sonja Heroldt... omtrent almal was daar!

Lees wat André sê oor die musiekvideo en hoekom ons so lank moes wag op ’n nuwe Afrikaanse album.

Hoekom moes ons 12 jaar op nog ’n Afrikaanse album wag? Ons het jou gemis!

Ek dink alles in die lewe het ’n tyd, en ek was so besig met soveel ander dinge dat die tyd net nie vir my reg was om weer ’n Afrikaanse album te maak nie.

Vertel ons van die eerste musiekvideo.

Ek Kom Huis Toe is ’n liefdesliedjie. Dis hoe ek voel oor my hertoetrede tot Afrikaanse musiek; daarom het ek in die video ’n paar vriende gebruik saam met wie ek al ’n lang pad stap. Almal was so geesdriftig!

Ons hoor jy’t vir die eerste keer in jou loopbaan – van meer as 20 jaar – self musiek vir een van jou eie albums geskryf. Hoe was die ervaring?

Dit was ’n heerlike proses om self te kan skryf. Om jou eie musiek te sing is werklik soveel makliker, want dit kom van dieselfde plek af van waar jy geskryf het. Jy hoef dus nie in iemand anders se kop te klim en te probeer verstaan wat hulle deur die musiek wil sê nie.

Van jou vorige Afrikaanse liedjies, soos Ek Wil Jou Nooit Weer Sien en Met Jou In My Lewe, is van die mees geliefde liedjies in Afrikaanse. Is daar baie druk om nog sulke treffers te lewer?

Daar is beslis baie druk en ’n aanvraag van my aanhangers om ’n klank te lewer wat verwys na die oorspronklike stemklank op my albums in my trefferjare. Daarom het ek Heidi Edeling in die ateljee gekry om op Ek Wil Weer seker te maak dat my stem by die styl van elke liedjie pas.

Verlede jaar het jy wegholsukses behaal toe jy die Phantom in Phantom of the Opera vertolk het, maar toe het jy jou stembande ooreis. Is jou stem nou weer gesond?

Ek het nie my stembande ooreis nie. Tot vandag weet ons nie wat werklik fout was nie. Letterlik een noot het nie lekker uitgekom nie; die res was perfek. Maar dit was seker maar die heelal wat vir my probeer sê het: “Jy het al die great rol gesing; vat ’n breuk en gee iemand anders die kans!” My stem is ongetwyfeld meer as OK. Ek het die rol al ’n paar keer weer in Johannesburg vertolk en dit was heerlik.

Enige ander groot toekomsplanne wat jy met ons kan deel?

Daar is ’n televisiereeks wat in Februarie op kykNET begin en ’n sterk moontlikheid van ’n groot verhoogstuk – ook saam met Andrew Lloyd Webber (die komponis van Phantom of the Opera) se Really Useful Company. Kyk uit daarvoor!

andre-cover