Vergeet maar eers van haar pragtige uitrusting van chiffon en kant, eenvoudig en treffend. En van haar vier mooi strooimeisies, elk in ’n unieke rok wat spesiaal net vir haar ontwerp is. En van die mans se snyerspakke van wol van haar pa se plaas wat deur Carducci gemaak is.

Vergeet van die mense van Cradock hier diep in die Karoo wat nooit die ongelooflike naweek sal vergeet toe al hul gunsteling-mense uit 7de Laan hierheen opgeruk het nie.

Want dit wat in die woestyntent voor 200 gaste op Japie en Jackie Jordaan se plaas gebeur het, het almal wat daar was nog altyd aan die praat...

Stel jou dit voor: In die reuse tuin van die skaapplaas gesels die gaste gemoedelik oor hoe pragtig die paartjie by mekaar pas. Dan beweeg almal na die enorme tent waar Heino Schmitt en BeauAnn Jordaan binnekort gaan aankom.

Die musiek begin speel en die twee kom onder groot applous op ’n trippelstappie binne.

Maar die volgende oomblik stoot sy hom boos met glurende oë weg. Daar is ’n swanger stilte terwyl gaste geskok en sprakeloos na mekaar kyk. Wat gaan dan nou aan?

Die minuut van stilte voel soos ’n ewigheid en dan word die spanning dramaties verbreek. Hy gryp haar hartstogtelik en sy gooi haar kop agteroor, haar been skiet die lug in, hul liggame vleg om en oor mekaar en hulle dans die tango dat die Karoo-lug vuurwarm word.

En êrens aan ’n tafel verwoord ’n gas hoorbaar almal se gevoel: ’n Paartjie wat so saam kan tango, sal nooit skei nie!

Lees meer oor Heino se troue en sien agt bladsye vol pragfoto’s in Huisgenoot van 31 Desember.