Die gewilde Afrikaanse sanger Dillon Lerm (35) het bevestig hy is verloof aan sy meisie van die afgelope drie jaar, Monique Pool, toe hy ná vele probeerslae haar op haar verjaardag vra om te trou.

Die paartjie het twee weke gelede verloof geraak en is eindelik gereed om hul geluk met die res van ons te deel.

[caption id="attachment_144646" align="alignnone" width="600"]Dillon en Monique het op haar verjaardag verloof geraak. Foto: Verskaf Dillon en Monique het op haar verjaardag verloof geraak. Foto: Verskaf[/caption]

Dillon het meer as een keer Monique (25) probeer vra om te trou en dit was eers met die derde probeerslag dat dinge volgens plan verloop het, vertel hy.

Dillon het ’n vryval-kursus in Pretoria vir hulle beplan om die dag af te rond en aan die einde sou elkeen ’n beurt kry om vanuit ’n vliegtuig te spring.

“Sy was onder die indruk ons gaan in ’n lugballon vlieg, maar was gou ontnugter toe ons by Wonderboom-lughawe voor die Pretoria Skydive Club se bordjie tot stilstand kom,” vertel Dillon eksklusief aan Huisgenoot. “Sy was baie benoud en haar hande het gesweet,” sê hy.

Dillon onthou hy was heeldag opgewonde vir wat aan die einde van die dag sou gebeur ná die kursus en ná hul spronge. Maar soos die noodlot dit wou hê, het die wind opgekom en kon die paartjie nie ná hulle vyf uur lange kursus spring nie.

Lees ook: Dié geliefde Afrikaanse akteurspaar is verloof!

Hulle beplan toe om die volgende naweek terug te gaan vir hul spronge. “Ek moes nog ’n week langer aan die ring vashou,” vertel Dillon, wat nie meer kon wag om die meisie van sy drome die jawoord te vra nie.

“Ons het ’n wonderlike dag gehad; net jammer toe ons klaar gespring het, het Monique die landing met ’n kilometer misgespring en ander kant die lughawe gaan land; nie naby die plek waar ek op haar gewag het nie,” vertel Dillon.

“Wel, sou gewag het as ek dit tot daar kon maak!” sê Monique. “Dillon sny toe per ongeluk sy hoofvalskerm weg gedurende sy sprong en het net die noodvalskerm oorgehad,” sê sy.

Hulle moes toe vinnig inspring en almal daarvoor soek. “Anders moes ek daardie dag vir ons nuwe stokperdjie ’n valskerm koop!” skerts Dillon.

Lees ook: Francois van Coke wys eersteling in skattige foto

Gelukkig vir Dillon, wat teen dié tyd al gebrand het om Monique te vra, het die volgende geleentheid ’n week later met haar verjaardag opgeduik en het hy haar op ’n boot gevra om te trou.

[caption id="attachment_144650" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Dillon se ma en bestuurder, Maxie Lerm, het Monique destyds aangestel om met Dillon se besprekings en bemarking te help en die liefde tussen het begin blom, vertel hulle. Deesdae is Monique die klankingenieur vir Dillon se optredes.

“Ons het besef dis ’n wenresep en ons is vir mekaar bedoel,” sê Dillon.

Baie geluk julle twee!