Vyf skole in Noorweë het die datums van hul eksamen aangepas sodat dit nie inmeng met die toerskedule van Justin Bieber se konserte in dié land nie.

Die Never Say Never-sanger tree op 16 en 17 April op in die hoofstad, Oslo.

Na bewering het die skole besluit om die datums van hul eksamens aan te pas sodat leerlinge wat die vertonings bywoon nie hul toetse misloop nie.

“Die eksamens is baie belangrik en die leerlinge kan nie bekostig om enigiets mis te loop nie,” sê Kristin Halvorsen, Noorweë se minister van onderwys.

Die skole wat hul eksamendatums aangepas het, is almal in die omgewing van die stad Ålesund, sowat 370 km noordwes van Oslo.

-Bang Showbizz