“Ons sien elke dag so baie voor- en ná-foto’s dat ek begin het om omgekeerdes te plaas net om mense te wys jou grootte bepaal nie jou geluk nie; ’n mens kan gelukkig wees in die lyf wat jy het, selfs al is dit groter as vantevore,” sê Megan Jayne Crabbe, ’n blogger wat in ’n stadium aan eetsteurings en ’n swak liggaam-selfbeeld gely het.

Die 23-jarige lyk atleties skraal in haar pienk oefenklere op die voor-foto. Op die ná-foto is sy uitgevat in pienk onderklere en lyk sy aansienlik meer gerond.

“Dit is my gelukkige liggaam,” skryf die BodyPosiPanda-blogger en beskryf hoe sy “opgehou het om obsessief te oefen” en baie meer tevredenheid ervaar noudat daar as’t ware meer van haar is. “Geluk hang nie van jou grootte af nie. En ek het veels te veel tyd gemors deur dit te glo.”

Sy sê sy was op haar skraalste toe die voor-foto geneem is. “Ek was ongelukkig; ek het myself gemartel. Ek het omtrent drie keer per dag – elke dag – geoefen en bitter min geëet. Ek was honger en buierig en ongelukkig, maar steeds ontevrede met my lyf.”

Dis nou 18 maande later en sy is ronder en in die wolke. “Ek het nooit gedink ek sou gelukkig kan wees in hierdie lyf nie. Dis nie ’n nr. 6 nie, dit is nie superfiks en superskraal nie, maar dis sag en ek voel gemaklik daarin.”

Welgedaan!

– Nici De Wet

Bronne: US Magazine, Instagram