Wel, vir Isaac Martinez van Arizona in Amerika was dit die perfekte geleentheid om ’n selfie te neem toe hy onlangs by die dood omdraai.

Die 20-jarige spysenieringstudent aan die East Valley-instituut vir tegnologie in Arizona het by die skool se eetplek gewerk toe die voorval gisteroggend plaasvind. ’n Vlugtende gewapende man het hom genader ná ’n vier uur lange skietvoorval by ’n motel oorkant die restaurant waarin een mens dood en vyf ander beseer is. Die gewapende man het glo daarop aangedring dat Isaac sy motorsleutels aan hom oorhandig. “Ek het natuurlik nee gesê en die volgende oomblik het hy ’n geweer uitgepluk en dit oorgehaal. Die oomblik toe ek dit sien, het ek agteruit begin tree. En gegil dat almal moet platval,” het Isaac op sy Facebook-blad vertel.

'Die student het dadelik sy bloederige sjefsunifrom op die sosiale netwerk Snapchat gelaai...'

“Die volgende oomblik het ek die grond getref. Ek het vinnig opgestaan en by die agterste uitgang uitgehardloop. Die aanvaller het terselfdertyd in my sjefinstrukteur se motor gevlug.”

Die student het dadelik sy bloederige sjefsunifrom op die sosiale netwerk Snapchat gelaai en daarby geskryf: “Ek’s pas geskiet.”

En asof dit nie erg genoeg was nie, het Isaac nog ’n selfie uit ’n hospitaalbed gedeel van sy borskas waar jy die skouerwond duidelik kan sien.

Sy Facebook-pel Rayitos Rivera het kort daarna die foto in ’n meme (’n foto met pittige kommentaar daarop geskryf) met die onderskrif “thug life” omskep.

Die verdagte, Ryan Giroux (41), is later in hegtenis geneem nadat hy op die balkon van ’n leë woonstel gewaar is.

Bronne: mirror.co.uk, dailymail.co.uk, Facebook