Charlie Sheen is woedend vir sy eksvrou Brooke Mueller omdat sy ’n nugterblyfasiliteit vir ’n strandhuis verruil het sodat haar kêrel vir haar kan kom kuier.

Brooke (35) het tydelik toesig verloor oor haar en Charlie se vierjarige tweeling, Max en Bob, en is eintlik veronderstel om haar verslawingsprobleem te oorkom. Maar nou het sy uit die nugterblyfasiliteit vir vroue getrek en ’n splinternuwe strandhuis in San Clemente, Kalifornië, gehuur sodat Jaron Lowenstein ’n draai kan kom maak. Hulle gaan al ’n jaar uit.

Intussen kyk Charlie se eksvrou Denise Richards na die tweeling.

Brooke was aanvanklik in die Betty Ford-kliniek, maar het nie gehou van die verantwoordelikhede wat sy daar gehad het nie. Toe is sy na die fasiliteit in San Juan Capistrano, en nou het sy die strandhuis gekry. Charlie is glo briesend.

’n Bron het aan die skinderwebtusite RadarOnline.com gesê: “Dis baie ontstellend, want Brooke se optrede wys duidelik sy neem haar rehabilitasie nie ernstig op nie. Haar benadering tot die behandeling is baie onortodoks, om die minste te sê. Wat dit nog erger maak, is dat die fasiliteit haar toelaat om dit te doen. Daar is geen aanduiding dat Brooke die vereiste dwelmtoetse by die fasiliteit ondergaan het nie. Brooke weet sy kan toesig oor haar kinders verloor, maar tog het sy uitgetrek sodat haar ou kan kom kuier. Brooke se verduideliking was sy is ’n bekende en het geen privaatheid gehad nie.”

Vroeër is ook berig Charlie wil ’n regter vra om die onderhoud te verminder wat hy elke maand aan Brooke moet betaal.

’n Bron het verduidelik: “Nadat Charlie uitgevind het Brooke het uitgetrek, het hy sy prokureur gevra om te begin met ’n aansoek om die onderhoudbedrag te verlaag. Charlie wil nie bydra tot haar dwelmgewoonte nie; die onderhoudgeld is Brooke se enigste bron van inkomste.”