[caption id="attachment_160310" align="alignnone" width="600"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

Die model en televisiepersoonlikheid het vroeër vandeesmaand ’n Amerikaanse hof ’n beskermingsbevel gevra en gesê sy is bang Chris voer sy beweerde dreigement deur.

Karrueche het in haar beëdigde verklaring aan die regter gesê Chris “het aan ’n paar mense gesê hy gaan my doodmaak”. Hy het glo daarop gesinspeel dat hy nog ontsteld is omdat hulle in 2015 uitmekaar is en gedreig het om haar te “skiet” sodat niemand anders haar kan hê nie.

Luidens die hofdokumente wat TMZ.com bekom het, het sy vertel sy was tydens haar wisselvallige romanse van vier jaar met Chris ’n slagoffer van huishoudelike geweld. Sy het ook beweer die R&B-ster het haar “twee keer in die maag geslaan” en haar “by 'n trap afgestamp”.

As die bewerings waar is, het die voorvalle gebeur terwyl die sanger nog in ’n proeftydperk van vyf jaar was nadat hy in 2009 sy destydse meisie, die sangeres Rihanna (29), aangerand het. Sy proeftydperk het in 2015 tot ’n einde gekom nadat dit verleng is weens dwelm- en ander oortredings.

Karrueche sê sy het onlangs regtig vir haar veiligheid gevrees nadat Chris glo gedreig het om een van haar vriende seer te maak, en selfs tydens ’n aand uit ’n drankie na hulle gegooi het.

Chris het nog nie op die bewerings reageer nie, maar ’n ysingwekkende video wat hy verlede maand aanlyn gedeel het laat dit nou lyk of Karrueche se bewerings waar kan wees.

Hy het in ’n Instagram-plasing oor vroue en verhoudings gesê: “Dames, julle kla oor ouens wat soos bekruipers is as hulle op julle verlief is, dat hulle halfmal is en dat julle moeg is daarvoor. Wel, raai wat? Ek is een van daardie ouens!”

Chris het bygevoeg: “Ek is lief vir jou, t***, en niemand anders gaan jou kry nie. Ek gaan jou sielsongelukkig maak.”

Die videogreep is daarna geskrap van die blad, maar het toe reeds soos ’n veldbrand versprei en teenreaksie van ander Instagram-gebruikers ontlok.

© Cover Media