Sy het by die bekendstelling van die Reeva Rebecca Steenkamp-stigting by die Hoërskool St. Dominic in Port Elizabeth gepraat.

Die stigting sal vroue en kinders bystaan wat vasgevang is in situasies waarin hulle mishandel word.

June het aan die leerders gesê sy wou nooit hê Oscar moet in die tronk gegooi word of dat hy moet ly nie. “Ek wil nie hê enigiemand moet ly nie en dit gaan Reeva nie terugbring nie... Ek soek nie wraak nie. Ek is by daardie stadium verby en as jy eenmaal vir God gesê het jy sal vergewe, moet jy vergewe. Ek wil nie hê hy moet ly nie . . . Ek sou beslis nie wou hê ’n ander mens moet ly nie.

Oscar is Maandagaand uit die Kgosi Mampuru II-tronk vrygelaat en hy moet die res van sy tronkstraf van vyf jaar onder korrektiewe toesig uitdien. Hy is gevonnis weens strafbare manslag nadat hy Reeva in 2013 op Valentynsdag in sy huis doodgeskiet het.

June het later gesê die stigting sal help dat vroue en kinders uit die omgewing waar hulle mishandel word, weggeneem en na ’n veilige plek gebring word.

"Tweedens moet hulle leer om ’n tuiste op te bou weg van die plek waar hulle was, dus moet hulle opgelei word. Hulle moet geld verdien om hul lewens te herbou,” het sy aan die SAUK gesê.

Sy het ook gesê die belangrikste ding wat mishandelde vroue moet doen, is om met hul ouers te kommunikeer. “Hul ouers is die mense wat hulle liefhet. Hulle moet na hul ouers toe gaan en vir hulle sê as iets verkeerd is.”

“Maar hulle (die ouers) moet die brug bou sodat die kinders gewillig is om met hulle te praat.”

Bron: News24