Sy dink mense sal gou van haar vergeet nadat sy volgende maand die land as openbare beskermer groet en ’n welverdiende blaaskans vat. Maar ons glo haar naam sal nog jare onthou word en dat mense haar nog lank by inkopiesentrums gaan voorkeer.

Hoewel sy groot sake getakel het wat die nasie geskud het, soos pres. Jacob Zuma se Nkandla-vesting, is dit die sake soos dié van Gogo Dlamini, waar gewone mense se lewe geraak is, wat adv. Thuli Madonsela die meeste gaan mis.

[caption id="attachment_136365" align="alignnone" width="445"]Foto: Lubabalo Lesolle Foto: Lubabalo Lesolle[/caption]

“Ek gaan die geleentheid mis om ’n verskil in mense se lewe te maak,” sê sy aan Huisgenoot.

Sy het aanskou hoe oumas hul pensioengeld kry en hul gelukkige gesigsuitdrukking was genoeg om enige hart te vermurwe. “Ons het hul lewe sien verander.”

Maar sy gaan dit ook mis om teen korrupsie te baklei. En dit gaan beslis moeilik wees om die span te groet wat sy so liefhet en met wie sy sewe jaar gewerk het.

“Hulle glo in wat hulle doen. Hulle het hierdie las gedra en beskou dit as deel van hul werk.” Hulle het Thuli ook uitgedaag as dit kom by besluitneming en haar dikwels oorreed om ’n moeilike besluit te maak.

“Ons was almal verantwoordelik vir die besluite wat gemaak is en hulle was die eerste wat beledig gevoel het as iemand ’n besluit kritiseer, want hulle weet goed watter harde werk dit verg.”

Die advokaat loof die kantoor van die openbare beskermer vir die ongelooflike gees daar. Maar daar is een ding wat Thuli bly is om agter te laat – die politiek.

[caption id="attachment_136364" align="alignnone" width="600"]Foto: Lubabalo Lesolle Foto: Lubabalo Lesolle[/caption]

“Dit het die lelike kant van vrees gewys. As mense bang is om hul menslikheid te verloor, is hulle bereid om na jou te kap met enigiets en alles tot hul beskikking.”

Die ma van twee sê hulle het haar nie meer as mens gesien nie, maar as ’n “gevaarlike ding”. Thuli is tydens haar ampstermyn telkens beledings en skelname toegesnou.

“Die beledigings was periodiek en het uit die bloute gekom. Ons het daarvoor gelag en dan het dit weggegaan,” sê sy met ’n laggie.

Maar dit was glad nie vir haar snaaks om ’n spioen genoem te word nie. Sy voel dit was onverantwoordelik en roekeloos. “Dit was gevaarlik, want al is dit vergesog, is daar baie mense daar buite wat nie oordeelkundig genoeg gaan wees om te verstaan dat dit belaglik is nie.”

Sy is in 2014 as een van die tydskrif Time se 100 invloedrykste mense ter wêreld aangewys, maar sê haar kantoor het nooit roem nagejaag nie.

“Ons wou net ons werk op die beste manier doen. Die enigste beloning wat ons gesoek het, was om onsself op die skouer te kan klop.”

Hoewel sy die bewondering en erkenning vir haar en haar span waardeer, wil sy ook graag weer ’n normale lewe lei.

[caption id="attachment_136366" align="alignnone" width="600"]Foto: Lubabalo Lesolle Foto: Lubabalo Lesolle[/caption]

“Ek sou graag in die inkopiesentrum wou stap sonder dat almal weet of omgee wie ek is, en almal net aangaan met hul inkopies.

“Ek het die heeltyd vir my kinders gesê mense gaan oor ses maande sê: ‘Thuli wie?’ Hulle stem glad nie saam nie en jy dink self ook dis wensdenkery. Maar ek droom regtig daarvan.”

Thuli sou niks omtrent haar reis wou verander nie, want dit was opwindend, al het sy langs die pad ’n paar voormalige vriende verloor. “Daar is diegene wat my die rug toegekeer het omdat dit hul loopbaanmoontlikhede beperk het om met my verbind te word.”

Maar daar is ook diegene wat nog vir haar teksboodskappe stuur om te vra hoe gaan dit of haar geluk te wens as sy ’n prys wen. Haar werkrooster is so vol dat baie mense al moed opgegee het om tee saam met haar te drink of te gaan fliek, want sy stel altyd uit of kanselleer.

“Een van my vriendinne verdien ’n medalje, want ons herskeduleer nou al die afgelope drie maande, maar sy stuur nog vir my boodskappe. “Dit was onmoontlik om net gewone vriendskappe aan die gang te hou, wat nog te sê ’n verhouding.”

Public Protector Thuli Madonsela and her daughter

Maar sy sê dit is niemand se skuld nie. “Ek dink nie vroue in magsposisies hoef noodwendig hul verhoudings prys te gee nie. Jy moet die twee balanseer.”

Dit gaan beslis ’n emosiebelaaide dag wees vir Thuli wanneer sy die kantoor groet, maar sy weet nie of sy gaan huil nie. “Ek weet nooit wanneer ek gaan huil nie. Ek wil nie huil nie, maar ek weet nie.”

Thuli onthou haar trane toe hoofregter Mogoeng Mogoeng sy uitspraak gelewer het oor of pres. Jacob Zuma belastingbetalers se geld moet terugbetaal wat hy gebruik het om opgraderings aan sy privaat vesting te maak wat nie met sekuriteit verband hou nie. “Ek het nooit oor die Nkandla-saak gehuil tot daardie dag nie.”

Sy is opgewonde oor die toekoms en sien uit daarna om ’n sabbatsjaar te vat voor sy terugkeer na die burgerlike samelewing en help bou aan die soort samelewing wat ons almal wil hê.

- Gabisile Ngcobo