BYNA twee jaar lank ry haar emosies al met haar wipplank tussen hoop en wanhoop – hoop dat haar dogter teen alle verwagtinge in tog nog leef en dat sy haar op ’n blye dag weer sal sien, en wanhoop dat sy dood is. Nog erger, dat haar lyk nooit gevind sal word en sy dan nooit van haar sal kan afskeid neem nie . . .

“Ek moet my dogter of haar oorskot sien om berusting te kry,” sê Carol Winter (62) en trek haar trui stywer om haar lyf toe. “En nou met hierdie skuldigbevinding . . .”

Sy praat van die 15 jaar tronkstraf wat ’n Doebaise hof die Brit Mark Arnold onlangs opgelê het vir die moord op haar dogter, Kerry Winter. “Sy vonnis beteken eintlik vir my niks nie,” sê die ma hartseer. Of hy nou vrygespreek is of lewenslank tronkstraf gekry het, ek het steeds nie my kind nie. Ek wil haar net terughê.”

Carol sit in die winterson in die sitkamer van haar suster se huis in Douglasdale, Johannesburg. By haar is haar seun Kurt (43), Kerry se ouer broer, en hy slaan driftig die palm van sy een hand op die ander terwyl hy praat.

“My ma kan nie glo Mark is daartoe in staat nie. Sy hoop steeds Kerry leef. Wat ek nie kan verstaan nie, is hoe hy net 15 jaar kon kry vir moord met voorbedagte rade.”

Mark, ’n 42-jarige Britse sakeman en Kerry se gewese kêrel, het ná haar verdwyning wêreldwyd berug geword. Soos hier in Suid-Afrika was die saak in Engeland ook groot nuus, en die buitelanders in Doebai het die skok-gebeure dag ná dag ademloos in die media gevolg.

Die laaste keer dat Kerry gesien is, was op 20 Augustus 2008 by haar woonstel in Al Baja. Later sou haar bure vertel bloed het uit ’n wond in haar kop gestroom nadat Mark haar tydens ’n hewige rusie met ’n bofbalkolf geslaan het. Toe boender hy haar in sy motor en jaag weg – en daarna het Kerry (35) spoorloos verdwyn.

Mark het eers beweer hy het haar langs die pad afgelaai en sy was piekfyn. Maar later het hy gesê hy het in die motor aan die slaap geraak en toe hy wakker word, was sy dood op die sitplek langs hom.

“Ek was geskok, vreesbevange. Ek kan net dink dat sy ’n dun skedel gehad het of so iets, want sy was oukei toe ons in die motor geklim het.”

Hy het toe haar lyk op sy boot versteek en see toe gery waar hy haar in die water gegooi het.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 17 Junie 2010.

Bespreek vir Skouspel!