Meer as ’n jaar gelede is hul babatjie, Rut, aan leukemie dood.

Nou het Kaapse munisipale owerhede aan Ingrid en Willem Theron toestemming gegee om Rut se oorskot uit ’n verwaarloosde begraafplaas naby Kuilsrivier op te grawe.

“Ek kan dit nie vat dat ons haar elke keer as ons die graffie besoek en onkruid uittrek daar moet los nie,” vertel Ingrid. As deel van haar genesingsproses wil Ingrid die kissie oopmaak, haar dogtertjie in haar arms hou voor sy veras word en eindelik saam met hulle kan teruggaan huistoe.

Hulle het klein Rut vir net sewe maande en drie weke by hulle gehad voor sy dood is aan bloedkanker.

“Dit het so vinnig verbygegaan," vertel Ingrid (35). “Ek gee nie om wat mense dink nie. Ek sukkel om te fokus. Ek is nou nog op auto pilot. Dis om my te beskerm. As ek haar kan sien dink ek sal haar dood vir my ’n werklikheid wees.”

“Ek weet nie of ek my dogter sou wou sien voor sy veras word nie, maar ek sal daar wees vir Ingrid om haar te ondersteun. Solank dit sal help dat die ou spontane Ingrid weer terugkeer," vertel Willem (39).

Dié skrynwerker is ’n sterk, kalmerende teenwoordigheid, wat Ingrid staande hou sedert daardie oggend van 14 November 2014 toe Rut se babalyfie vir die laaste keer pap geword het en sy gesterf het.

[caption id="attachment_139824" align="alignnone" width="600"]Hulle het klein Rut vir net sewe maande en drie weke by hulle gehad voor sy dood is aan bloedkanker. Foto: Verskaf Hulle het klein Rut vir net sewe maande en drie weke by hulle gehad voor sy dood is aan bloedkanker. Foto: Verskaf[/caption]

Vir Ingrid is dit vandag nog so rou en seer soos toe. Hul sewejarige seuntjie Joshua is hul “anker, ’n seëning”.

“Hy red ons lewens," vertel Ingrid. “Ek is so trots op ons seun. Hy is in gr. R en is gekies om aan ’n wiskunde olimpiade deel te neem. Sy juffrou noem hom haar spogkind. Hy het altyd trooswoorde vir my," sê sy.

Hy sal nie by die opgrawing wees nie. “Hy sal net die as by die huis sien,” voeg sy by. Hy het al klaar besluit daar sal ’n reënboog bo-oor die kissie by die huis in die woonvertrek wees saam met vars blomme elke dag. “Die reënboog was mos die Here se belofte aan Noag dat die lewe nie weer gaan oorvloed met trane nie. Dit gaan nooit weer só baie reën nie.”

Dis sal sowat R25 000 kos om Rut op te grawe en te veras. Op 21 Oktober bied hulle ’n jazz-konsert in Grassy Park-gemenskapsentrum aan om geld in te samel.

Belangstellendes kan kaartjies vir die konsert om 19:30 vir 20:00 teen R150 per persoon koop deur met Ingrid kontak te maak by theronwjri1@gmail.com