Caden Slabbert (8) en sy sussie, Eden (11), was saam met hul pa Justin in die motor op pad huis toe. ’n Baksteen wat deur een van die motorruite gegooi is, het Caden teen die kop getref.

Lees ook: Seun (8) in koma ná baksteen deur motorruit vlieg

Sy skedel was gebreek en die genesingsproses het maande geduur. In hierdie tyd moes Caden met ’n helm vir beskerming loop nadat ’n gedeelte van sy skedel verwyder moes word.

Spesialiste het gewag dat die wond gesond word voor hulle die stuk skedel wat verwyder moes word, tydens ’n operasie sou vervang met ’n spesiale staalplaat.

Caden se ma, Andriëtte Cooper, het aan Krugersdorp News gesê sy wens het waar geword nadat hy die afgelope maande gebid het dat sy skedel so sterk soos die sterkste staal sou word.

Lees ook: Goeie nuus oor agtjarige wat maand terug deur baksteen op N12 getref is

Ten spyte van Caden se merkbare herstel, was daar kommer of sy liggaam wel die staalplaat sou aanvaar.

“Ek kan doodgaan tydens my operasie,” het die dapper seun aan sy ma gesê oomblikke voor hy op 15 Januarie 2016 die teater binnegegaan het.

Die goeie nuus is dat die neuroloog en ander medici tydens ’n drie en ’n half uur lange operasie sukses behaal het met die inplanting van ’n titanium-plaat in sy skedel.

Caden se ma het aan Krugersdorp News verduidelik dat die plaat nie solied is nie, maar soos ’n mosaïekstukkie lyk. “Dit sal die titanium in staat stel om aan te pas namate Caden se kop groei.”

As alles goed gaan, sal Caden Vrydag (22 Januarie) huis toe kan gaan. Hy is glo goed keelvol vir hospitale, dokters en medisyne en het aan sy ma gesê hy wens dit het nooit met hom gebeur nie.

Bronne: news24.com, krugersdorpnews.co.za, citizen.co.za