"My lewe is op die spel."

So het Oscar Pistorius vanmiddag tydens sy moordverhoor in die hooggeregshof in Pretoria getuig. Adv. Gerrie Nel (vir die staat) het Oscar gevra hoekom hy nie sy vrae beantwoord nie, maar eerder lang relase gee van sy weergawe van die oggend van Reeva Steenkamp se dood. Gerrie het Oscar daarvan beskuldig dat hy elke antwoord oordink voor hy dit gee. Oscar het gesê hy sal roekeloos wees as hy nie oor elke antwoord dink nie, want “my lewe is op die spel”.

'Maar weens jou dade het Reeva nie meer ’n lewe nie.'

“Maar weens jou dade het Reeva nie meer ’n lewe nie,” was Gerrie se antwoord.

Oscar het vanmiddag voet by stuk gehou die skietery was ’n ongeluk en dat hy per ongeluk die vier skote op die deur afgevuur het.

Hy het gesê hy het nooit ontken hy het die skote afgevuur nie, maar hy het nooit bedoel om iemand te skiet nie.

“Ek was oorkom met vrees. Ek het nie kans gehad om te dink nie. Toe ek die geluid in die toilet hoor, het ek gedink die inbrekers gaan uitkom en my aanval.

“Ek het nooit bedoel om op iemand te skiet nie. Ek het uit vrees geskiet.”

Die saak is tot môre uitgestel.

- Hilda Fourie