Ryan Hammons, van Oklahoma in Amerika, het op die Amerikaanse TV-program Today verskyn waar hy oor sy vorige lewe gepraat het. Die seuntjie se ma, Cyndi, sê die reïnkarnasie-storie het begin met nagmerries toe Ryan vier jaar oud was. Hy het ’n jaar later sy “ware identiteit” aan sy ma onthul.

“Hy’t een aand gesê: ‘Ma, daar is iets wat jou moet vertel. Ek was voorheen iemand anders,’” vertel Cyndi. “Ek het in ’n Baptistekerk grootgeword; dis nie iets waarin ons destyds geglo het nie.”

Ryan het sy ma vertel van sy ervarings toe hy die wêreld platgereis het, soos dat hy op Broadway gedans en saam met ikoniese sterre soos Rita Hayworth gewerk het. “Sy stories het soveel besonderhede bevat en was so omvattend dat dit nie na iets geklink het wat ’n kind sommer kan opmaak nie.” Haar seun se ongelooflike onthullings het daartoe gelei dat Cyndi navorsing gaan doen het. “Ons het die foto (van die akteur) gevind en dit het alles verander,” sê sy.

‘Dis ek, dis wie ek was,’ vertel Ryan.

Die foto is in ’n biblioteek in ’n gedenkboek oor Hollywood gevind waarin daar ’n foto is uit ’n fliek, Night after Night, wat in 1932 uitgereik is. “Sy het na die blad in die boek geblaai, en toe sê ek: ‘Dis ek, dis wie ek was,’” vertel Ryan.

’n Rolprent-aktivis het die onbekende akteur identifiseer as Marty Martyn, ’n ekstra wat nie praat in die fliek nie.

Dr. Jim Tucker van die Universiteit van Virginië hou rekord van reïnkarnasie-gevalle en hy meen Ryan se storie is die oortuigendste. “As jy kyk na ’n foto van ’n ou sonder enige dialoog in ’n fliek en my dan oor sy lewe vertel . . . ek dink nie baie van ons sou met Marty Martyn se lewensverhaal kon opkom nie. Tog het Ryan talle besonderhede verskaf wat by sy lewe pas.”

Bronne: mirror.co.uk, fox8.com, pix11.com, today.com