Selfs die regisseur van die nuwe seisoen van Boer soek ’n Vrou was teleurgesteld omdat nie een van die top-5-boere van dié werklikheidsreeks liefde gevind het nie.

[caption id="attachment_154480" align="aligncenter" width="600"]Stephanus saam met die aanbieder, Minki van der Westhuizen. Foto: Verskaf Stephanus saam met die aanbieder, Minki van der Westhuizen. Foto: Verskaf[/caption]

“Ek kan 100% verstaan dat die kykers teleurgesteld is. Ek was net so omgekrap dat dinge nie vir een van die boere uitgewerk het nie. ’n Mens hoop mos maar altyd vir ’n gelukkige einde,” sê Stephanus Rabie, regisseur van die afgelope seisoen van dié gewilde kykNET-reeks.

Die negende seisoen van Boer Soek ’n vrou was ’n wipwa-rit, een wat kykers week na week aan die praat gehad het. Maar ongelukkig het die seisoen Donderdagaand geëindig met nie een van die boere wat verlief huis toe gegaan het nie.

Minki van der Westhuizen was ook die eerste keer die aanbieder van die program.

[caption id="attachment_154481" align="aligncenter" width="550"]Stephanus saam met Leon-Fritz van Limpopo. Foto: Verskaf Stephanus saam met Leon-Fritz van Limpopo. Foto: Verskaf[/caption]

Boer Arno, wat naby Newcastle boer en vir Jacobu gekies het, het aan Minki gesê dat hy nie daardie “verliefdheid” voel nie en sy en Jacobu se verhouding bloot platonies is. Kykers was natuurlik glad nie daarvoor te vinde nie, want die vorige week moes hulle hoor dat Leon-Fritz van die Limpopo en Chanté ook net vriende wil wees.

“Vanaand maak julle geskiedenis. Julle is amptelik die minste dames wat nog by Boer Soek ’n Vrou se reünie was,” het Minki aan die handvol dames wat deur die boere na die reünie genooi is, gesê.

 

Tog meen Stephanus dit beteken nie die seisoen was ’n flop nie. “Ek dink dit dui juis daarop dat hierdie reeks 100% realisties is en dat daar geensins ingemeng word om ’n ander einde te bewerkstellig nie.”

“ ’n Mens kan nie liefde op mense afdwing nie en as dit nie tussen twee mense werk nie, dan werk dit nie. Die program skep ’n geleentheid vir die boere om meisies te ontmoet wat hulle nooit voorheen sou kon ontmoet het nie.

"Van daar af kan ’n mens maar net hoop dat daar ’n vlammetjie sal flikker. Dit het nou nie dié jaar gebeur nie, maar wie weet, dalk is al die boere volgende jaar verlief,” sê hy.

[caption id="attachment_154478" align="aligncenter" width="550"]Dit was Stephanus se eerste keer in die regisseur-stoel van Boer Soek 'n Vrou. Foto: Verskaf Dit was Stephanus se eerste keer in die regisseur-stoel van Boer Soek 'n Vrou. Foto: Verskaf[/caption]

Dit was Stephanus (33) se eerste keer as regisseur van die reeks en hy sê hy het probeer om nie té veel aan die reeks te verander nie. “Ek het wel daarop gefokus om meer buite te verfilm sodat kykers meer die omgewing en die plase kan sien as wat in vorige seisoene moontlik die geval was.”

Hy sê dit was vir hom ’n groot voorreg om deur die land te reis, interessante plekke te sien en nuwe mense te ontmoet. “Ek dink nie daar is ander mense in die wêreld wat so gasvry en vriendelik soos die boere van ons land is nie.”

[caption id="attachment_154479" align="aligncenter" width="550"]Hy het doelbewus meer buiteskote probeer skiet wat die plase wys. Foto: Verskaf Hy het doelbewus meer buiteskote probeer skiet wat die plase wys. Foto: Verskaf[/caption]

Gelukkig het enkele van die ander boere, deelnemers wat nou nie in die top-5 was nie, wel liefde gevind tussen hul briewe. Boer Erhard en Tiekie lyk smoorverlief.

En boer Corné en sy Pauline het ook albei die skoot hoog deur.