’n Werknemer by Twitter wat 'n basissalaris van R2 miljoen per jaar verdien, moes een keer geld leen om die pot aan die kook te hou en sukkel om kop bo water te hou in Silicon Valley.

’n Aantal werkers in die tegnobedryf wat ’n sessyfersalaris in dollarterme (meer as R1,3 miljoen per jaar) verdien, kan nie basiese goed soos huurgeld en kindersorg betaal nie – een Apple-werknemer woon in ’n motorhuis en gebruik ’n kompos-emmer as toilet, berig The Guardian.

Die werknemers het gevra om anoniem te bly omdat hulle bang is hul werkgewers kan teen hulle optree omdat hulle uitpraat.

Die sagteware-ingenieur by Twitter sê hy verdien ’n “aaklige inkomste” onder diegene wat in die suidelike deel van die San Franciso-baaigebied – wat Silicon Valley heet – woon.

Sy huis is ook te beknop na sy smaak, maar hy sê hy kan nie meeding met mense in hul 20’s wat bereid is om verblyf te deel en tot R26 000 vir ’n kamer te betaal nie.

“Gesinne word uit die mark gesluit oor die pryse,” sê hy en voeg by dat gesinne ook op kommersiële vlak uitgesluit word weens kafees en restaurante wat plek maak vir “byderwetse koffiekroeë”.

Huurpryse in Silicon Valley is glo die hoogste ter wêreld, volgens nested se 2017 Rental Affordability-indeks. .

Maar die mense in die tegnobedryf se inkomste tel onder die top-een-persent in Amerika; mag hulle dus enigsins kla?

The Guardian berig dat 12 ingenieurs in ’n tweeslaapkamerwoonstel woon wat hulle deur Airbnb huur vir R14 300 per maand vir ’n “stapelbed en vyf mense wat ’n kamer deel. Een ou het in ’n kas gewoon en R18 200 ($1 400) vir ’n ‘privaat vertrek’ betaal.”

Dit lyk asof daar ’n algehele gevoel van teleurstelling met sessyfersalarisse in Silicon Valley heers – ingenieurs by Facebook het die kwessie verlede jaar met die stigter Mark Zuckerberg bespreek en gevra of die maatskappy hul huurgeld kan subsidieer om dit meer bekostigbaar te maak.

Die peperduur lewenskoste het veroorsaak dat ingenieurs elders werk vir tot 50 persent minder aanvaar – soos een wat R9,1 miljoen ($700 000) verdien het en steeds ’n werk in San Diego aanvaar het.

Wat beteken dit vir die 99 persent wat deel is van die “laerinkomstegroep” en in die welvarende tegnohoofstad werk?

Hulle kan bloot nie bekostig om in die gebied te woon nie – sekretaresses, brandbestryders en onderwysers moet daagliks pendel.

Haweloosheid is ook algemeen in San Francisco.

Michelle (28), wat meer as R1,3 miljoen per jaar verdien, het aan The Guardian gesê sy “is vasgevang in ’n uiters ongemaklike posisie. Jy voel skuldig omdat jy soveel armoede en hulpeloosheid sien. Maar wat is jy veronderstel om te doen?

Nie ’n klomp geld verdien nie? Moet jy nie opstaan vir jouself sodat jy kan bekostig om hier te woon nie?”

Bronne: The Guardian, EFC, nested.com, Tech.Mic