Daleen Jonker is iets van die verlede; en nou is Carmen Fourie hier om te bly.

[caption id="attachment_119924" align="alignnone" width="600"]Desiré vertolk deesdae die rol van Carmen in Suidooster. Foto: verskaf. Desiré vertolk deesdae die rol van Carmen in Suidooster. Foto: verskaf.[/caption]

Die geliefde Desiré Gardner, wat agt jaar lank Daleen Jonker in Binnelanders gespeel het, het vandeesweek haar buiging op kykNET se sepie Suidooster gemaak in die rol van die borrelende (en blonde!) Carmen Fourie.

En sy sê sy het dadelik tuis gevoel op die nuwe stel. “As ’n mens eers voor die kamera staan, is die gevoel op die Suidooster-stel en Binnelanders s’n grootliks dieselfde: ’n klomp passievolle en professionele mense wat hul werk aanpak.

Lees ook: Marco oor daai Suidooster-soen – en 5 dinge wat lelik kan skeefloop

“Net soos by Binnelanders, is al my mede-akteurs nie net talentvol en lekker om mee saam te werk nie; hulle is ook gemaklike en interessante mense waarmee ek lekker kan gesels en vriendskappe bou.”

Desiré en haar man, Chris, werk saam by Suidooster: sy voor die kameras en hy agter die skerms as die hoof van die tegniese afdeling en beligting. Hulle het onlangs die groot trek van die Goudstad na die Kaap onderneem.

[caption id="attachment_122182" align="alignnone" width="600"]Desiré saam haar man, Chris en hul driejarige eersteling, James. Foto: Verskaf ’n Donkerkop-Desiré saam haar man, Chris en hul driejarige eersteling, James. Foto: Verskaf[/caption]

Buiten dié groot skuif moes die donkerkop Desiré ook haar hare blond kleur vir haar nuwe rol. “Ek moet sê (die verandering) is vir my baie lekker. Ek verwelkom dit en geniet die ligter hare baie. Dit wil vir my voorkom asof blondines meer pret het!”

En hoe voel sy oor haar nuwe karakter, Carmen Fourie? Carmen is ’n rebelse vrou en die aangenome suster van Bianca Fourie (Simone Biscombe). As binnenshuise versierder met ’n rebelse persoonlikheid, krap Carmen maklik die mense rondom haar om.

“Ek het van die begin af van Carmen gehou,” verklap Desiré. “Sy’s die soort karakter wat dalk onder ’n paar kykers se vel gaan inkruip. Sy’s die soort meisie wat elke vriendekring of familie het: die een wat weier om groot te word, en almal – ten spyte van hulself – sal kry om altyd pret te hê. Ek dink sy’s fantasties.”

[caption id="attachment_122184" align="alignnone" width="600"]Desiré meen die dinamika gaan heeltemal anders wees met Robin Grace as destyds met James. Foto: Verskaf Desiré meen die dinamika gaan heeltemal anders wees met Robin Grace as destyds met James. Foto: Verskaf[/caption]

Van al die groot nuus en veranderings in die Gardner-gesin is Desiré en Chris veral opgewonde oor die koms van hul eerste dogtertjie, Robin Grace. Desiré het Donderdag die nuus dat sy ’n dogtertjie verwag eksklusief op die joernaalprogram Bravo! bekendgemaak.

“Ek sien so uit na ons pop!” sê sy. Haar en Chris se eersteling, James, word vier in Mei vanjaar.

“Hierdie keer is dit anders. Ek weet hierdie keer wat ons gaan kry: ’n wonderlike nuwe mense wat ek elke dag die voorreg gaan hê om te leer ken.”

Waarna sien sy veral uit omdat dit dié slag ’n dogtertjie is? “Ek dink die mooimaak en fieterjasies van ’n dogtertjie. Maar ook hoe seuntjies en dogtertjies van mekaar verskil in terme van emosies en dit waarmee hulle hulself graag besig hou; eintlik die opwinding van ’n nuwe kind met ’n heel nuwe persoonlikheid.”

Ouboet James is ook al baie opgewonde om sy babasussie te leer ken. “Hy noem haar Peanut en sê hy gaan haar leer skaatsplank ry en suuruitjies eet.

[caption id="attachment_122185" align="alignnone" width="600"]Die beste deel van Kaap toe trek, is die feit dat sy en haar man nader aan mekaar kan wees, sê Desiré. Foto: Verskaf Die beste deel van Kaap toe trek, is die feit dat sy en haar man nader aan mekaar kan wees, sê Desiré. Foto: Verskaf[/caption]

“Maar ek dink tog dis vir hom ’n vreemde tyd. Hy’s ’n dierbare kind met ’n hart van goud, maar ek is seker so saam met die onsekerheid en tikkie jaloesie sal hy eindelik aanpas en ’n goeie ouboet maak.”

Lees ook: Desiré Gardner omtower in ‘vurige, borrelende blondine’ én deel wonderlike nuus!

Chris en Desiré het besluit op die naam Robin Grace omdat Robin Chris se tweede naam is. “Grace is daar omdat sy deur die genade van die Here in ons lewe gekom het op so ’n onverwagte tyd. Sy is ons klein teken van genade.”

Robin Grace maak na verwagting einde Julie haar opwagting. Beplan Desiré om dan vir eers ’n blaaskans van sepiestelle en woorde leer te neem? “Dit gaan afhang van hoe dinge dan lyk. Ek het al geleer om nie te ver vooruit dinge te beplan nie; dus sal ek maar kyk wat die toekoms inhou.”

– Petrus Malherbe

Ook op Huisgenoot.com

Kyk net wat het hierdie hond aangevang toe hy alleen tuis gelos word!

Hierdie plusgrootte-model het die volmaakte antwoord vir mense wat ander se lyf afkraak

Kyk: Kan jy die versteekte prentjie binne dié rooi kol sien?

Hoeveel weet jy van Jan van Riebeeck?

Kyk: Hidroliese pers vernietig enigiets – van Lego tot selfone en gholfballe

Ouma oorleef wonderbaarlik ná sy deur veiligheidshek se spitspen deurboor word

Tiener gooi balletjie ‘na homself’ in asemrowende optiese illusie