SY ONTHOU die dag, datum, uur en minuut dat haar lewe eensklaps verander het. Tot 12:41 op 19 September 2009 was sy ’n gelukkig getroude vrou, maar toe ontvang sy op daardie warm lentemiddag in Johannesburg ’n SMS, een wat eintlik vir haar man bedoel was.

Dit was Marie Opperman (58) se derde huwelik en haar man, Chips (56), s’n ook, maar hierdie keer het sy geglo sou hulle bymekaar wees tot die dood hulle skei. Hul huwelik was immers op vertroue gebou.

Albei het jare gelede affairs gehad, maar toe hulle ses jaar gelede getroud is, het hulle vir mekaar gesê hulle is klaar met daardie soort ding waarmee jy nie net jou huweliksmaat nie, maar ook soveel ander mense seermaak. Sy en Chips het altwee beloof hulle sal nooit vir mekaar iets wegsteek nie en sy het hom geglo.

Tot die middag toe sy die SMS van ’n onbekende nommer af op haar man se selfoon lees: “Kan e j bel?’’

Sy het dadelik geweet die woorde beteken moeilikheid. “Dit het letterlik soos ’n skop in die maag gevoel,” vertel Marie op die stoep van haar en Chips se huis in Randburg en dit lyk of sy nog fisiek die pyn van daardie oomblik kan voel.

Chips, wat aartappelsorteermasjiene verkoop en installeer, het die vorige dag op kort kennisgewing vir sake Angola toe gevlieg. Marie het voorgestel dat hy sy selfoon by haar los sodat sy vir hom boodskappe kan neem.

Sy het dadelik die onbekende nommer gebel en toe ’n vrou met ’n jong stem die foon beantwoord en dit toe dadelik dooddruk, het dit haar vermoede bevestig.

Toe Chips haar van ’n satellietfoon uit Angola bel, het sy gegil: “Ek weet van jou meisie!” Maar hy het gesê hy weet nie waarvan sy praat nie.

Marie, ’n vryskutjoernalis, het danksy ’n kontak haar man se selfoonrekords in die hande gekry. Sy het die SMS’e na daardie nommer oor en oor getel: 898 binne ’n jaar. Daar was bladsye vol met net Enos – soos sy Chips se skelmpie noem – se nommer.

“Weet jy hoe seer dit maak om al die nommers so te sien?” vra Marie en haar vinger gly oor die rye met dieselfde nommer oor en oor.

Voor haar lê ’n dik stapel dokumente. Dis alles bewyse van Chips se affair met die vrou wat hy al jare lank deur die aartappelbedryf ken: betaalstrokies by restaurante, ’n strokie van die Spar in KwaZulu-Natal waar hy eenmaal vir Enos angeliere gekoop het, afskrifte van SMS’e wat hulle in 2008 en 2009 vir mekaar gestuur het en heel bo-op ’n kaartjie aan Chips met “baie liefde’’ van Enos.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 28 Oktober 2010